Perdewaens bly ’n passie
2010-01-28
Sieb Sieberhagen
AL is daar store vol gerestoureerde perdewaens op sy plase in Moorreesburg en Wellington, sal die restourasie van ’n koets die kroon span, sê Herman Burger, teler van Vlaamse perde en boer van Wellington. Herman is al van kleintyd besig met die restourasie van waens en is tans besig met die restourasie van ’n gerwewa wat uit die Overberg-wêreld kom. “Ek het dié wa in Vanwyksdorp raakgeloop. Die wa was maar in ’n treurige toestand. Wat dit uniek maak, is die dubbele stel vere wat kenmerkend van die Overberg- streek was - natuurlik omdat daar minder paaie was en die terrein heelwat rowwer was as hier by ons.” Herman, wat op Wellington grootgeword het, is saans en naweke saam met sy seun Schalk besig met die restourasie, maar besoek gereeld veilings en hou sy oë en ore oop vir waens wat ’n bietjie aandag nodig het. “Ek is hoeka op die spoor van twee lykswaentjies,” vertel hy. “Mense heg baie keer sentimentele waarde aan waens wat aan hulle oupas en oupagrootjies behoort het, maar dan staan dit êrens en verrot. Ek wil graag sien dat die kultuur van perde en waens moet voortleef. Hoeveel van ons weet nog om agt perde voor ’n wa in te span? “Daar is soveel verskillende soorte waens en dan kry ’n mens ook dat die voorkoms van waens baie streeksgebonde was. So byvoorbeeld is waens wat jy in Kaapstad en in Kimberley gekry het, baie deftiger as dié van die platteland,” sê hy. In sy versameling is die 1830-waentjie wat in Kaapstad gemaak is, die oudste. “Ek het die waentjie in die Koue Bokkeveld opgespoor. Die besonderhede oor wanneer en waar die wa gemaak is, word op die as aangebring,” vertel hy. Een van Herman se staatmakers wanneer dit by restourasie kom, is “Hoender” van der Burg (73). “Hoender is ’n legende wanneer dit by streeptrek kom,” vertel Herman. Streeptrekkers is verantwoordelik om die patrone op waens aan te bring. Hoender vertel dat hy al vir 50 jaar ’n streeptrekker is. “Ek het dié kunsies by Boeta Gasant geleer,” vertel hy terwyl hy met vryhand patrone op die gerwewa verf. Wat dié takie nog meer besonders maak, is dat hy sy eie kwassies van bokbaardhare maak. Hy plak dit met houtlym aanmekaar en verf patrone en lyne asof ’n masjien dit gedoen het. Maar hoeveel waens het jy nou eintlik, wou PaarlPost by Herman weet. “Ek is nie heeltemal seker nie, maar ek dink hier by die 30 rond. Die ideaal sal wees om al die waens op een plek uit te stal. Dalk gebeur dit nog,” sê hy.
More
News
|