Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Meer as net ’n passie vir dans

Meer as net ’n passie vir dans
 
2010-01-28

Liezl Dyson

’n PASSIEVOLLE baldansafrigter, Jo-Anne Adams, spandeer ’n groot deel van haar tyd aan die afrigting van minderbevoorregte kinders.

Ek sal uitreik na hierdie kinders so lank as wat ek kan,” sê Jo-Anne, wat spog met Suid-Afrikaanse finaliste onder haar studente.

Jo-Anne, wat bekend is onder Paarliete vir haar dansskool en haar bruidsuitrustings, ploeg met hart en siel terug in die gemeenskap en hoop om so ’n verskil te maak in jong aspirantdansers se lewens.

Jo-Anne, wat op die ouderdom van 25 jaar met baldanse begin het, was ’n uitblinker in professionele baldans-kompetisies.

“Ek het later besluit om self dansklasse aan te bied en het eers met volwassenes begin. Ek het eers die ouers geleer en later die kinders.

Vandag leer ek al kleinkinders van my eerste studente en seker selfs agterkleinkinders,” het sy gesê.

Jo-Anne Dansskool is vanjaar 34 jaar oud en beplan ’n groot 35ste verjaarsdagviering volgende jaar,

Volgens Jo-Anne het haar dansskool klein begin, maar rig sy vandag byna 60 kinders af en die kinders kom sover as Klapmuts.

“Omdat dit ’n duur sport is, kan almal dit nie bekostig om deel te neem nie, maar ek kan nie talentvolle kinders wegwys nie. Dit is in baie gevalle juis die kind wat dit nie kan bekostig nie, wat die meeste talent toon.”

Jo-Anne vertel hoe sy baie kinders sien “ontdooi” uit hul omstandighede wanneer hulle begin dans.

“Dit doen so ’n kind goed om te dans sodat hulle kan wegbreek van hul omstandighede.”

Volgens haar moet die dansskool finansieel baie bydra sodat dansers aan kompetisies kan deelneem.

“Die ouers kan nie altyd betaal nie en dan help ek maar van my kant. As ek nie help nie, kan ek maar my deure sluit.”

Die dansskool het ook ’n komitee wat help met besluitneming en administratiewe werk.

Sy vervoer ook van haar studente ná en ván klasse en moet studente tot by kompetisies ook vervoer. Sy beraam die skool bestee sowat R11 000 per jaar aan petrol.

Onlangs het ’n paartjie van haar dansskool tweede geëindig by die SA Danskampioenskappe in die afdeling Youth Latin American, waarop Jo-Anne baie trots is.

“Dis vir my soos ’n wonderwerk dat hulle so ver gekom het, maar dis ’n bewys dat enige kind dit kan doen.”

Jo-Anne vertel dat dit haar droom is om eendag langs haar huis ’n dansateljee te hê waar sy mense kan afrig en waar sy op haar eie tyd kan werk.

Sy maak tans gebruik van die Hugenote Gemeenskapsaal om klasse aan te bied en sy bied ook klasse in Klapmuts aan.

“Elkeen kan seker maar hulle drome hê, maar vir nou sal ek klas gee solank as wat die Here my krag en genade gee om dit te doen.”

Deel van haar toekomsplanne is ook om gestremde kinders te leer dans.

Volgends haar is daar kinders wat nie dansklere en skoene kan bekostig nie en moet sy in dié verband ook help, deur haar bruidswinkel.

“Daar is selfs kere waar ons aan kompetisies gaan deelneem dan moet van die studente ’n paar skoene deel.”

Haar dogter, Juliana Falmer, sit ook gereeld hand by om dansrokke teen ’n minimale bedrag te maak.

Mense wat wil bydra tot kostes van verdienstelike jong dansers wat dit nie breed het nie, kan vir Jo-Anne kontak by 072-277-5096.


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za