Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Michelle byt vas ná 7 operasies

Michelle byt vas ná 7 operasies
 
2010-02-04

Lise Beyers

TWEE jaar gelede het dit gelyk asof die pyn en lyding verby is vir die kleine Michelle Munnik.

Maar steeds duur die stryd voort om te verseker dat sy eendag normaal sal kan loop.

Michelle is gebore met ’n gebrek, PFFD, wat veroorsaak dat haar een been korter is as die ander omdat haar bobeen by die heup nie behoorlik ontwikkel het nie.

Haar ouers, Eugene en Jackie Munnik, het voor ’n reusekeuse te staan gekom toe Jackie ses maande swanger was met hul eersteling.

’n Roetine-sonar het getoon dat hul ongebore baba moontlik aan ’n sindroom ly wat geweldige geboorte-afwykings soos doofheid, blindheid, ’n gesplete verhemelte en verwronge gesig tot gevolg kan hê.

Die Munniks, wat enkele dae voor hierdie tyding vol blydskap was oor die koms van hul eersteling, het die sonar geneem vir ’n tweede en toe derde opinie, maar die bevindings hiervan was dieselfde.

Nou moes hulle ’n aborsie oorweeg.

Hulle het egter hul vertroue in ’n Hoër Hand gelaat en op 25 Mei 2004 was hulle oorstelp van vreugde toe hulle hul byna perfekte babadogtertjie in hul arms vasgehou het.

Ná al die vrese van verskriklike geboortedefekte, was haar een beentjie slegs 3cm korter as die ander.

Maar dit het ook nie beteken dat die pad vorentoe maklik sou wees nie.

Michelle se eerste operasie het op die ouderdom van drie jaar plaasgevind om die lengte van haar been aan te pas. Dit sou die eerste en laaste operasie wees, maar dit was egter net die begin van ’n lang pad in en uit die hospitaal nie.

Binne minder as twee jaar het sy reeds sewe operasies ondergaan en maande in die hospitaal deurgebring. En steeds is haar pad na herstel nog nie aan ’n einde nie.

Ná nog ’n operasie in Desember, was albei Michelle se bene in ’n gipsspalk oor die Kerstyd.

Dokters raadpleeg nou met buitelandse geneeshere oor wat die volgende stap sal wees in Michelle se behandeling.

Die kleine Michelle kan slegs kort afstande stap met die hulp van krukke, en spandeer die meeste van haar tyd in ’n rolstoel of tuis op haar bed.

Dit was ’n uitputtende reis tot dusver vir haar familie, maar dit laat hulle hoegenaamd nie onderkry nie.

“Sy bly steeds ons sprankel-kind,” vertel Eugene en Jackie.

“Sy is deur so baie en het al gefrustreerd geraak, maar die meeste van die tyd bly sy optimisties, borrel van die lewe en het altyd ’n glimlag op haar gesig.

“Al wat sy wil doen, is speel met haar sussie Simoné (3), en sy is ook net so vol kattekwaad soos ander kleuters.”

Michelle, wat bedags onder die toesig van ’n oppasser tuis is weens haar ouers se werksverpligtinge, sien daarna uit om binnekort by Bambi Kleuterskool aan te sluit en dan as alles goed gaan, pak sy volgende jaar haar skooltas.

Die Munniks se mediese fonds is al ’n geruime tyd gelede uitgeput en hulle moes reeds byna R140 000 uit hul eie sak haal vir mediese onkostes.

’n Fonds is gestig hiervoor. Enigiemand wat daarin belang stel om ’n helpende hand te verleen, kan inbetalings maak by Standard Bank in die Mej M Munnik spaarrekening, nommer 375036946.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za