Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Droom word waar

Droom word waar
 
2010-02-04

Lise Beyers

FRANCISCO NAUDÉ is ’n man met ’n droom.

En hierdie droom is stadig maar seker besig om waar te word, met die hernuwing van die New Orleans Sportvelde.

Deur die jare het hierdie velde, wat eens ’n juweel van aktiwiteit in dié Paarlse woonbuurt was, erg vervalle geraak.

Gepaard met die agteruitgang hiervan, is die vervalle kleedkamergebou op die perseel deur misdadigers en dwelmverslaafdes gebruik vir hul misdrywe. Die gemeenskap het uiteindelik self ingespring en hierdie gebou afgebreek.

Naudé, wat in hierdie gebied grootgeword het en self as kind die sportvelde benut het, vertel dat hy kan onthou dat die New Orleans Sportveld in daardie dae die hart van die gemeenskap was.

“Dit was die heel beste velde in Paarl-Oos en as kinders het ons gedurig hier sokker gespeel, en families het uitgespan en piekniek gehou.

“Die agteruitgang het vir my verskriklik hartseer gemaak, en ek moes iets doen.”

So het Naudé vir Monte Christo Ministries genader en die idee is gebore om die velde te laat herleef.

Monte Christo Ministries het sterk bande met verskeie gemeenskapsprojekte in die gebied, en hulle het gespring om betrokke te raak hierby.

En na nog samesprekinge en ooreenkomste met die Drakenstein Munisipaliteit, Paarl-Oos polisie, asook die gemeenskapspolisieforum, het die wiele begin rol.

Monte Christo Ministries het ongeveer R1,2 miljoen ingesamel om die sportvelde te herontwikkel. Hierdie befondsing kom hoofsaaklik uit Brittanje en die VSA.

Tans is drie sportvelde reeds voltooi met nuwe gras, en ’n vierde veld sal binnekort voltooi wees.

Binnekort sal die velde amptelik geopen word.

In die toekoms lê die vooruitsig van ’n BMX-fietsbaan, speelparkie, pawiljoen en kleedkamers.

“Ons wil hê dat dit ’n veilige ontspanningsarea vir die gemeenskap moet wees, en kinders kan sonder vrese hier kom speel en sport beoefen. Professionele afrigting gaan ook gereël word.”

Verlede week het die sportvelde ook ’n hupstoot gekry, toe ’n plaaslike sakeman, Carl Pretorius, ingespring het en bome ter waarde van R40 000 geskenk het.

Hierdie inheemse Kaapse vy-bome, wat gekweek is deur Pretorius se Just Trees kwekery in Paarl-Noord, is summier geplant en beloof om skaduwee te bied aan toeskouers en sportmanne.

Naudé het gesê dat hulle hierdie skenking terdeë waardeer, en nooi ander sakepersone uit om te help om die sportvelde van die grond af te kry.

Hy kan geskakel word by 079-901-0106 of 021-872-1179.


More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za