Rapportryers vier 40 jaar
2005-09-08
DIT was ‘n weersiens van ou vriende en die kans om oor vele projekte en inisiatiewe van die afgelope vier dekades te gesels toe vriende en belangstellendes byeengekom het ter viering van die Wellington Rapportryers se veertigste bestaansjaar.
Die plaaslike korps, wat hom ten doel stel om aksies ter bevordering van die Afrikaanse taal, kultuur en strewes te bevorder, asook aksies wat Wellington en die gemeenskap bevorder en uitbou, is in 1965 gestig.
“Deur harde werk en doelgerigtheid het die Wellington Rapportryers geleenthede daargestel wat ‘n hoogtepunt op die plaaslike kalender is, soos die SAD Halfmarathon en die Wellingtonner van die Jaar funksie,” het die huidige voorsitter, Hercules van Wyk, gesê.
Die eerste halfmarathon, wat in 1988 aangebied is, het reeds groot name soos Bruce Fordyce, Mathews Temani en Xolile Yawa gelok.
Die geleentheid, wat in samewerking met die Wellington Atletiekklub aangebied word, gaan steeds van krag tot krag en is die ideale advertensie vir Wellington en die omgewing.
Van die ander projekte wat die Wellington Rapportryers oor die jare aangebied het, sluit onder meer die landswye debatskompetisie, ‘n jeugleiersaand vir plaaslike skole en skenkings aan verskillende plaaslike organisasies en skole in.
Die Rapportryers is 'n organisasie wat voorsien in kulturele behoeftes.
Die plaaslike korps is al meermale vereer vir die werk wat hulle doen en is verlede jaar aangewys as die aktiefste tak landwyd.
More
News
|