Chevonne wil hoor
2005-09-08
HOEWEL sy nie veel kan hoor nie, is Chevonne Adams ‘n doodgewone nuuskierige sewe-jarige.
Draai sy haar kop, sien ‘n mens die gehoorapparate agter haar ore, waarvan sy heeltemal afhanklik is om te kan hoor. Dit het nou die sleutel tot haar toekoms geword.
Chevonne het op tweejarige ouderdom meningitis ontwikkel en het doof geword as gevolg daarvan.
Ma Sharine, ‘n fabriekswerker, het haar werk prysgegee om al haar aandag aan haar dowe kind te wy. Pa Norman werk by 'n wynkelder.
Sê ma Sharine, “Die afgelope vier jaar woon Chevonne die Carel du Toit Sentrum vir dowe kinders te Tygerberg Hospitaal by. Ons moes ook ouerleidingsklasse bywoon sodat ons kon leer om beter met haar te kan kommunikeer.”
Ma en dogtertjie moet soggens vroeg opstaan om voor sewe die trein na Tygerberg te haal by Daljosafat-stasie. Smiddae kom hulle so vieruur tuis.
Chevonne se ouer broer, Shane, is in graad agt by New Orleans Sekondêr.
By die sentrum word verseker dat die kleintjies met ouerhulp die beste taalstimulasie kry wat moontlik is.
Na voltooiing van hul program gaan hulle dan na spesiale skole vir dowes, of na hoofstroomskole waar hulle behandel word op dieselfde manier as normaalhorende kinders.
Na vele toetse is daar bevind dat Chevonne beter gehoor kan kry deur middel van ‘n kogliêre inplantingsoperasie, wat uiteindelik ook haar spraak sal verbeter.
‘n Kogliêre inplanting in die oor is soortgelyk aan ‘n baie klein, gevorderde rekenaartjie en dis hoekom dit so duur is.
Die onkoste vir die kogliêre inplanting beloop R145 000 en omdat die Adamse nie aan ‘n mediese fonds behoort of mediese versekering kan bekostig nie, is hulle tans besig met fondsinsameling.
Mense wat kan help, kan bydraes inbetaal in die rekening CNS Adams (nommer 9131749758) by Absa, Paarltak (takkode 334-210).
* A young Paarl girl requires an expensive operation to restore her hearing.
More
News
|