Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Broodboomtuin se baas gee leisels oor

Broodboomtuin se baas gee leisels oor
 
2010-02-11

Sieb Sieberhagen

’n AFTREE-OORD in die Paarl, Huis Vergenoegd, spog met ’n pragtige broodboomtuin, wat ontwikkel is deur inwoner Mias Kennedy (88).

Kennedy, oud-houtwerkonderwyser van Boishaai en bekende vetplantkundige, het die tuin in 1998 begin.

Dié tuin spog nou met 24 broodbome met die oudste wat so ongeveer twintig jaar oud is. Behalwe die broodbome het dié tuin ook ’n ontelbare klomp vetplante en honderde bolplante.

“In broodboomterme is twintig jaar eintlik baie jonk,” sê Mias wat in 1998, toe hy na die Paarl verhuis het, omtrent tien broodbome van sy tuin in Panoramastraat hier kom plant het.

“En so deur die jare het ek by broodboom-vriende skimpe gegooi en vandag spog die tuin met 24 broodbome van orals oor. Van die bome se herkoms kan teruggeneem word na Japan, Mexiko en Australië,” sê hy.

Broodbome, wat as fossielplante beskryf word, dateer terug tot meer as 200 miljoen jaar gelede en nou word dié lewende fossiele ook in Vergenoegd se Mias Kennedy Broodboomtuin vir die nageslag bewaar.

“Ek het dié tuin nie vir die finansiële waarde van broodbome begin nie, maar omdat dit plante is wat oor die eeue heen nog nie uitgesterf het nie.”

As gebore Namakwalander het Kennedy altyd op die plaas Smôrenskadu, oos van Springbok, gesoek na eienaardige plante en klippe.

Dit is waar die belangstelling in plante wortel geskiet het en hy bekend geword het onder internasionale vetplantversamelaars en -kundiges.

Hy het bekendheid verwerf as kweker van die Lithops vetplant wat in die volksmond as die “beeskloutjie” bekend staan. Hy het self die land deurkruis op soek na dié plantsoort.

Dit het daartoe gelei dat hy onbekende soorte ontdek het en dat sommiges na hom vernoem is. Een is spesifiek na Smôrenskadu, sy geboorteplaas, vernoem.

Die “beeskloutjie” is ’n vaal klipplantjie, maar wanneer hulle blom, staan jy sprakeloos. Dan besef ’n mens waarom Mias Kennedy soveel tyd van sy lewe afgestaan het aan die planteryk.

Kennedy het nou die leisels oorgegee aan Pieter van Zyl, self ’n kranige tuinier en kenner van die Kaapse fynbos, wat die afgelope vier jaar ’n inwoner van Huis Vergenoegd is.

“Ek het vir elf jaar die mas opgekom, maar nou gee ek dit oor aan Pieter. Hy is ook al ’n hele ruk besig met die versorging van die tuin,” sê Kennedy.

Belangstellendes in vetplante en broodbome kan Lydia Corbett, die maatskaplike werker by Huis Vergenoegd, skakel om na die tuin te gaan kyk (021-870-3304).




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za