Rolstoele vir Sunfield
2010-02-11
Johan Nel
DIE nuwe jaar het op ’n besondere hoë noot begin vir die inwoners van Sunfield, die bekende sentrum vir intellektueel gestremde volwassenes by Wellington. Een van die inwoners by Sunfield wat besig was om haar vermoë om te loop te verloor, het ’n splinternuwe rolstoel ontvang, ’n pragtige koffietafelboek oor die sentrum het pas verskyn en 11 van die inwoners gaan vandeesmaand aan ’n groot swembyeenkoms in Gauteng deelneem. Volgens Magda Viviers, bestuurder van Sunfield, was Poppie Smit wat reeds 18 jaar by die sentrum inwoon en wat Down-sindroom het, vinnig besig om haar vermoë om te beweeg te verloor. Dit het haar later meer as 20 minute geneem om die 50 meter tussen haar woonplek en die eetsaal met behulp van twee helpers af te lê. Die Wellingtonse Rotariërs het hiervan te hore gekom en het onmiddellik twee splinternuwe rolstoele aan Sunfield beskikbaar gestel. Een van die stoele sorg nou dat Poppie vinnig en maklik by die sentrum kan rondbeweeg. Gerhard van der Merwe, president van die Wellingtonse Rotariërs, sê dat die organisasie deel is van ’n veldtog van die Amerikaanse Rolstoelstigting wat wêreldwyd gratis rolstoele aan mense en organisasies skenk wat dit dringend benodig. Die Wellingtonse Rotariërs het ook onlangs rolstoele gratis aan die geneeshere op Wellington geskenk om pasiënte wat moeilik beweeg te help om makliker by die geneeshere se spreekkamers te kom. Sonvangers, ’n pragtige koffietafelboek oor die mense van Sunfield, het ook pas verskyn. Die boek bevat stories oor die inwoners, is propvol volkleurfoto’s en word teen R225 verkoop om fondse vir Sunfield in te samel. Belangstellendes kan die boek bekom deur 021-873-5038 te skakel. Agt van die inwoners het ook pas verneem dat hulle gekies is as lede van die Wes-Kaapse swemspan wat op 20 Maart aan die groot somerspele vir gestremdes in Gauteng gaan deelneem.
More
News
|