Dierevriende help
2005-09-08
OP ‘n sonnige oggend kan dinge bedrywig raak by die Wellington Dierebeskermingsvereniging, op die pad na die plaaslike stortingsterrein.
As dit nie iemand is wat bel om te hoor of daar ‘n katjie is om aan te neem nie, is dit mense wat ‘n hond kom afgee omdat hulle nie meer kan bekostig om dit te onderhou nie.
En tussendeur moet die diere wat in die nege hokke aangehou word, versorg word en kans kry om op die gras bene te rek.
“Ons is aan diens sewe dae ‘n week, 24 uur per dag,” gesels Anthony Sanders, ywerige vrywilliger en nuwe voorsitter van die plaaslike DBV-tak.
Dié man, wat in sy aftye tussen skofte by ‘n Paarlse drukkersmaatskappy vrywillig werk ter bekamping van wreedheid teenoor diere, sê hy was maar altyd betrokke by diere, eers by die Paarlse DBV-tak en die afgelope paar jaar op Wellington.
“Sit hom net ‘n halfuur in ‘n hok saam met enige hond en die dier raak rustig,” vertel DBV-werker Frederich Mostert oor Tony.
Soms, egter, kry hulle gevalle soos die rifrug wat in ‘n woonstel grootgemaak is en wat nie man of muis verdra nie, en na die DBV gebring is omdat sy eienaar verhuis.
Dis oor sulke sake dat die handjievol vrywilligers en personeel op Wellington voel dat daar ‘n behoefte aan opvoeding van kindsbeen af is oor hoe diere behandel moet word.
Sedert April het hulle meer as 400 verlore, siek, mishandelde of oorbodige honde en 61 katte hanteer.
Meer vrywilligers is nodig vir fondswerwing, die hantering van gevalle, en opvoedingsessies by plaaslike skole, glo Tony.
‘n Nuwe komitee is onlangs gestig, met Lynn Olivier, Gail Terblanche, Alison Cox, Elaine Wegelin en Sharon Sanders, terwyl Nicolette Williams daar is vir fondswerwing.
Tans is hulle betrokke by die weeklikse dierekliniek by Weltevrede Sportgronde, waar mense hul diere kan kom dip, ontwurm en inent teen bekostigbare pryse.
Dr Tertius Schneider is byderhand om na siek diere om te sien. Dit word Dinsdae van 13:30 tot 15:30 gehou.
Daar word ondersoek ingestel na gevalle van mishandeling of verwaarlosing, en die DBV-bakkie is ‘n gereelde gesig.
“Mense se huise lyk voor baie fatsoenlik, maar mens weet nie altyd wat agter gebeur nie,” vertel bestuurder Colleen McQueen.
Hul ideaal is om genoeg fondse te kan werf om ‘n inspekteur met wetlike magte, voltyds te kan aanstel om te help met wetstoepassing en die opvolg van klagtes en opvoedingsprogramme.
‘n Veearts behartig ook die sterilisasie van diere. Hieroor voel Colleen baie sterk.
“As mense hul diere steriliseer sal dit nie vir ons nodig wees om klein katjies agter bosse te gaan uithaal, of diere uit dreine te red nie.”
Hulle ontvang baie diere wat verlore geraak het, of oproepe van mense wat hul diere vermis.
Selfs ‘n vark wat van ‘n bakkie afgeval het, is al deur die polisie gebring om te versorg in die hoop dat die eienaar sal opdaag.
Onlangs weer was ‘n vriendelike hond drie maande in hul sorg totdat ‘n vriendin van die eienaar toevallig daar aangekom het en die hond geëien het.
Om te help met die opsporing van vermiste diere, stel Colleen voor dat diere duidelike identifikasieplaatjies met ‘n kontaknommer om die nek dra.
“En as diere vermis word, bel ons gerus en laat ‘n beskrywing, want dalk bring iemand dit in.”
Vrywilligers wat wil betrokke raak by die plaaslike DBV of ‘n dier wil aanneem, kan 864-3726 kontak.
* The Wellington SPCA gives a helping hand to alleviate animal suffering.
More
News
|