Oud-Paarliet vier 100 jaar
2010-02-11
’n OUD-PAARLIET, Jamiela Mohamed (gebore Moerat) het verlede Sondag teruggekeer na haar geboortedorp om haar 100ste verjaarsdag te vier. Ongeveer 400 gaste, meestal familie en vriende, het by die spoggerige geleentheid in die Huguenot Gemeenskapsaal opgedaag om saam met haar hierdie mylpaal te gedenk. Hierdie knap vrou is die eerste persoon uit die Paarlse Moslem-gemeenskap wat ’n eeu beleef het. Sy verkeer in goeie gesondheid en sê alles is aan God te danke. Haar geheim vir ’n lang goeie lewe is om gesond te leef, sonder alkohol of rook. “En moet nooit die Almagtige vergeet nie - ’n mens kan hom nooit genoeg bedank vir die seëninge wat die Almagtige oor ons plaas nie,” sê sy. Jamiela het twee kinders, vyf kleinkinders, sewe agterkleinkinders, 12 agter-agterkleinkinders en vier agter-agter-agterkleinkinders. Sy is een van 13 kinders van die bekende Moerat-familie van die Paarl, wat talle sporthelde opgelewer het. Nege van haar familielede het nasionale sportkleure ontvang: Yusuf Moerat, Naaim Moerat, Ebrahim Moerat, Ikraam Moerat, Marwaan Moerat, Nazeem Moerat, Achmat Abrahams, Hassiem Hassiem Hendricks en Ghalib Hendricks. Jamiela het haar Paarlse familie (veral Yusuf Moerat) en almal wat bygedra het om die viering Sondag so ’n sukses te maak, bedank.
More
News
|