DBV bygestaan met raad en daad
2010-02-25
Christine Siebrits
TOE Wellington en Paarl Saterdag verswelg het in die 46ºC hitte wat op die omgewing neergedaal het, het die Wellington Lions saam met werknemers van Fanie Ferreira (Wellington Bouers), ge- swoeg om die kathokke op te gradeer deur sementvloere in die hokke te gooi. Die sweet het behoorlik gedrup. Ronnie Hansen sê die Lions daag nou ander ondernemings en instansies uit om te kom help om die volgende projek te voltooi. Dit is die installasie van die dipbak. Hiervoor is ook bouers en veral loodgieters nodig. Die DBV-bestuur het hul dankbaarheid uitgespreek vir die hulp van alle donateurs, borge en ook die hande-arbeid wat so mildelik geskenk word. Die DBV is dankbaar om te rapporteer dat beide Tara, die herdershond, en Kaptein, die langhaar-terriër albei huise gekry het en dat hulle binnekort na hul nuwe tuistes sal gaan. * Op Saterdag 13 Maart om 09:00 word ’n ontbyt by To Dine For in Kerkstraat aangebied ten bate van die Wellington DBV. Vriende word uitgenooi om ’n heerlike ontbyt te kom geniet. Ander aanbiedinge wat vir die oggend beplan word, is ’n kunsuitstalling van Wellington kunstenaars, ’n wynveiling van KWV wyne en ’n ontmoeting met Lucky Lucy (die hondjie wat onlangs ’n been verloor het op die treinspoor). ’n Bekende TV persoonlikheid sal ook daar wees. Kaartjies is verkrygbaar teen R80 per persoon by Maggel by To Dine for (083-639-6377 of 021-873-0447) of gaan loer in by Die Blomwinkel.
More
News
|