Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Almal het ’n storie om te vertel

Almal het ’n storie om te vertel
 
2010-02-25

Marguerite Lombard

DIT is die klein stories wat kleur en diepte aan die geskiedenis gee. Party stories is net twee woorde lank, soos “onderveldse meisie”.

Ander is ’n resep, of ’n potjie blou-botter-salf wat sorgvuldig oor ’n stuk flênnielap gesmeer word met ’n knippie peper vir ’n kind se swaar bors.

“Ons het almal ’n storie, ’n verhaal, ’n stukkie geskiedenis. Dit word net nie altyd opgeskryf nie, maar as ons nie ons gemeenskap se geskiedenis opskryf nie, dan sal dit verlore gaan,” verduidelik oudburgemeester Herman Bailey van die Wellington Museum se Om-die-tafel-stories-projek.

“Ons het al begin met die geskiedenis van die mense van Wesstraat, en verlede week het ons vier families van Terracestraat bymekaargebring om hulle stories te vertel.”

In die 1960s is al die huise tussen Terrace-, Joubert- en Pentzstraat gesloop en die gesinne wat daar gewoon het, moes blyplek kry suid van Markstraat.

Dit was die jare van Apartheid, die Groepsgebiedewet en die Wet op Agterbuurtes. Wellington se Markstraat is gesien as die skeiding.

Die meeste mense is Langham Park toe of Ghost Town soos almal dit genoem het, omdat dit so naby aan die groot begraafplaas was.

Doreen Albertus is al 84 jaar oud, maar sy kan haar ou bure van amper 50 jaar gelede, soos gister onthou. Hulle vanne ryg sy soos ’n string krale: Samuels, Robertsons, Sindons, Smalls, Samsodien, Pietersen, Isaacs, Williams, Morris, Benjamin, September en Hoffman.

Elke nou en dan is daar ’n storie wat eers vertel moet word, of ’n bietjie twyfeling of die geheue nog betroubaar is, en dan volg die name weer kort op mekaar: Jacobs, Willemse, Magogi. Koos Ontong. Dirk en Rose Adams…

Tussendeur word daar hartlik gelag vir mense se byname: oom Frans Velkop, Popcorn, en ja, almal weet presies wie tant Anna Pan was.

Moet ook nie vra hoe mense op hulle byname gekom het nie.

“Daardie tyd as jy ’n man soek, en jy gaan soek hom op sy regte naam, sal jy hom nie kry nie. Jy moet weet wat mense hom noem,” verduidelik Doreen Albertus.

Maar moenie ’n fout maak nie: jy soek groot moeilikheid as jy by ’n deur gaan staan en klop en vra of “oom Tienie Matras” by die huis is.

Al die stories van dié trek Langham Park toe, is nie mooi stories nie. Dis hartseerstories, en stories wat vandag nog kan seer maak om daaroor te praat.

Mense soos Madge Isaacs en haar gesin, was nie gelukkig genoeg om munisipale huise te kry nie. Hulle moes saam met talle ander gesinne in die munisipaliteit se ou kampong gehuisves word.

Die kampong was ’n groot gebou naby die kruising tussen Hospitaal- en Voorstraat en het voorheen as enkelkwartiere vir munisipale werkers gedien. Die gebou is later gesloop.

Vir Madge Isaacs was die ervaring een wat sy nooit sal vergeet nie: “Dit was 1961. Ons was die laaste wat uit Terracestraat getrek het. Ek kon nie bekostig om vir my ’n huis te gaan koop, of grond om ’n huis op te bou nie.

“Toe hulle my trek daar by die kompong van die lorrie aflaai: ek sal dáárdie gevoel nooit vergeet nie. Dat hulle dít aan ’n mens kan doen.

“Ek kan nie meer onthou hoeveel mense ons was nie, maar baie. Almal, al die grootmense saam met al die kinders en net een toilet vir al daardie mense. En een kraan. Hulle het ons liederik behandel.

“Dit was so erg dat die mense van oorkant die straat ons genooi het om hulle toilette te gebruik.”

Die kampong moes soveel mense huisves dat baie mense klerekaste gebruik het om skeidings te prakseer tussen gesinne.

Die meeste mense van Terracestraat het in Hugo se fabriek in Bainstraat gewerk of by die dorp se leerfabrieke.

Die Wellington Museum se Om-die-tafel-stories-projek sal later vanjaar ook werksessies met die gemeenskappe van Hopestraat, Botterberg, Laer Pentzstraat en Fonteinstraat doen.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za