Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Huishulpe leer lekker kook

Huishulpe leer lekker kook
 
2010-02-25

Johan Nel

DIE Wamakersvallei-opleidingsentrum van Wellington begin op 9 Maart met ’n splinternuwe kursus om huishulpe in voedselbereiding op te lei.

Die sentrum, wat die afgelope tien jaar reeds 5000 mense suksesvol in babasorg en as tuisversorgers opgelei het, het pas kombuisgeriewe ingerig by die sentrum met die hulp van ’n borg en sal voortaan tot 50 studente ook in voedselbereiding kan oplei.

Volgens suster Iréne de Waal, hoof van die sentrum, sal dié intensiewe nuwe kursus in voedselbereiding oor ’n tydperk van twee maande eenmaal per week by die sentrum aangebied word saam met die gewilde kursusse in tuisversorging en babasorg.

Sannie Nel, ’n koskenner en oud-onderwyseres van Wellington, het die nuwe kursus spesiaal vir die sentrum opgestel en sal dit ook aanbied.

Volgens suster De Waal is die kursus opgestel om huishulpe vinnig en deeglik op te lei om moderne, uitsoek-etes goedkoop en smaaklik vir huishoudings voor te berei.

“Oor die afgelope dekade het ons duisende mense wat voorheen werkloos was, gehelp om suksesvolle loopbane in babasorg en en tuisversorging te vind.

“Met ons nuwe kursus in voedselbereiding bied ons nou aan huisvrouens ’n unieke geleentheid om hul huishulpe verder te bemagtig deur hulle deeglik as voedselbereiders by ons te laat oplei.”

Die nuwe kursus word aangebied in ’n splinternuwe kombuis wat deur ’n bekende Wellingtonse wynmaatskappy geborg is. Die kombuis beskik oor tien werkstasies waar tien studente op ’n slag opgelei kan word.

Die kursus bestaan uit agt dagkursusse wat oor ’n tydperk van twee maande een keer per week by die sentrum aangebied word. Die kursus sal aanvanklik op Dinsdae en Donderdae aangebied word.

Studente wat ingeskryf is om op Dinsdae opgelei te word, sal vanaf Dinsdag 9 Maart vir twee maande lank elke Dinsdag by die sentrum klas loop. ’n Tweede groep sal vanaf 11 Maart elke Donderdag klas loop.

Elke dagklas kan tien studente akkommodeer en namate belangstelling in die kursus toeneem, sal dagklasse van Dinsdae en Donderdae na ander dae van die week uitgebrei word sodat daar uiteindelik op elke weeksdag tien studente per dag, vyftig per week, vir twee maande lank by die sentrum in voedselbereiding opgelei sal word.

Suster De Waal sê daar is op die oomblik nog plek beskikbaar vir voornemende studente wat die nuwe kursus wil bywoon.

Die voornemende studente, wat verkieslik reeds as huishulpe werk, sal dus net een dag per week oor ’n tydperk van twee maande van die werk afwesig wees om die kursus by te woon.

Die kursus kos R1500 per student. Inskrywingsgeld stel studente nie net in staat om die kursus by te woon nie, hulle ontvang ook elkeen hul eie kookdrag en ’n volledige hand- en resepteboek.

Alle bestanddele wat die studente vir die kursus benodig, sal deur die sentrum verskaf word.

Belangstellendes kan 021-873-5942 skakel vir nadere besonderhede of om in te skryf.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za