Ouma raak IT baas
2010-02-25
Lise Beyers
DAAR is ’n gesegde dat jy nie ’n ou hond nuwe truuks kan leer nie. Maar ’n inwoner van Rusoord-ouetehuis bewys hierdie gesegde nou totaal en al verkeerd. Op die ouderdom van 90, het Polla Kotze nou die wêreld aan haar vingerpunte, te danke aan die nuutste inligtingstegnologie. Kort voor haar 90ste verjaarsdag vroeër vandeesmaand het haar kinders vir haar begin uitvra wat sy vir hierdie groot geleentheid as geskenk wil hê. Hulle het ’n nuwe televisiestel voorgestel. “Ag nee,” was Kotze se antwoord hierop, “daar is in elk geval niks die moeite werd om te kyk nie, ek speel liewerste Sudoku. “Maar,” vang sy toe haar kinders onkant, “ek sal wel graag ’n rekenaar wil hê waarop ek vir vriende en familie kan Skype, asook waarop ek die internet kan gebruik.” Kotze is nie heeltemal ’n leek as dit by rekenaars kom nie. Sy het ’n ou skootrekenaar by haar seun gekry, en hiermee het sy die basiese beginsels van moderne tegnologie baasgeraak. Haar foto’s is daarop gestoor, sy kan briefies tik en vir haar is dit ’n groot plesier om rekenaarspeletjies te speel. Maar tussendeur het sy gehoor van al die ander wondere van rekenaars, soos internet en Skype. En haar belangstelling word ook geprikkel om ou vriende op die kuberruimte op te spoor, deur middel van die sosiale netwerk, Facebook. So, te danke aan haar kinders, het Kotze op 13 Februarie ontvangs geneem van ’n splinternuwe rekenaar, met al die komponente wat sy sal nodig hê om ’n kuberruimte-kletskous te word. Kotze is baie opgewonde oor Skype, want sy het kleinkinders wat in Amerika woon, asook familie en vriende dwarsoor die land. “Al is hulle so ver sal ek nou met hulle van aangesig tot aangesig kan gesels.”
More
News
|