Aftrede ná 51 jaar
2010-03-04
INWONERS van Paarl gaan nie meer vir Japie Arnoldus (66), Faure & Faure Prokureurs se alombekende bode, in die dorp se strate opmerk nie. Vir 51 jaar was hy een van die bekendste gesigte by finansiële instellings, die munisipale kantore, die belastinggaarder se kantore asook by die poskantoor en by ander prokureurskantore terwyl hy met sy dagtaak besig was. Hy is sekerlik die enigste persoon in die Paarl wat nooit by enige van hierdie instansies bewys van identiteit hoef te verskaf het nie, want almal het geweet wie hy was. Hy is nooit sonder sy swart skoene, lang kouse, kortbroek en baadjie gesien nie. Hy was altyd pynlik netjies en na verneem word, het hy nog nooit ’n langbroek gedra nie. Of dit gereën het en of die kraaie gegaap het, was hy altyd op sy pos op sy fiets besig om sy werk te verrig. Japie is op ’n plaas in Wellington gebore en het op 10-jarige ouderdom saam met sy ouers na die Paarl getrek. Hy het op 16-jarige ouderdom, nadat hy die Zion-skool verlaat het, by die regsfirma Dan du Toit as bode begin werk. In dieselfde jaar het hy diens aanvaar by die alombekende prokureur Bom Hoffman (Hoffman & Kie Prokureurs). In 1996 het die firma, wat toe bekend was as Hoffman & Meyer, saamgesmelt met Faure & Faure Prokureurs, waarna Japie saam verhuis het na die huidige kantoor in die Patriot-gebou in Hoofstraat. Hy het ook vir bykans 20 jaar addisionele bodewerk verrig vir Van Wyk & Fouchee Prokureurs. Eers na ’n onlangse kniebesering het Japie besluit dat stap en fietstrap nou moet plek maak vir ’n rustige aftrede. Sy werkgewers praat met lof daarvan dat niks hom van stryk laat bring het met die uitvoering van sy pligte nie. Soos Japie self verklaar, beskou hy pligsbesef en lojaliteit as die belangrikste kwaliteite wat enige werknemer moet hê. “Ons gaan hom geweldig mis en sy groot skoene gaan moeilik vol gestaan word deur enige opvolger,” het een van die direkteure gesê. “Ons gun hom ’n rustige aftrede en vertrou dat hy nog lank vir sy familie gespaar sal word.”
More
News
|