Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Amper-amper stories

Amper-amper stories
 
2010-03-25

Johan Nel

DAAR was ’n dag lank, lank gelede, toe Wellington en die plase om die dorp amper-amper deur ’n verwoestende haelstorm vernietig is.

En daar was ’n dag, net so lank gelede, toe ’n waardige inwoner van die dorp amper-amper met ’n vlammende wa reguit na die hemel opgevaar het.

Dié vreemde amper-gebeure uit die verre geskiedenis van Wellington is verlede week deur die Wellingtonse skrywer Winnie Rust opgediep toe sy ’n groot groep bejaarde inwoners in die plaaslike biblioteek oor die geskiedenis van hul dorp toegespreek het.

Sy het vertel van die tyd, meer as 150 jaar gelede, toe ’n groep mense wat as Wellington se Wederdopers bekend gestaan het, ’n kommune in die dorp kom stig het.

Wellington se Wederdopers het bestaan uit ’n groot groep mense uit Nederland en Duitsland asook enkele plaaslike inwoners wat saam met pastoor Wouter Groenewoud in ’n tamaai huis langs die dorp gewoon het.

Die groep was, as gevolg van hul vreemde uitsprake oor die godsdiens en ook as gevolg van hul ongewone gedrag, nie baie gewild by die mense van Wellington nie.

Hulle traktaatjie, waarin die dag en ’n datum voorspel is waarop Wellington en omgewing deur ’n vernietigende haelstorm getref gaan word, het indertyd die mense van die dorp in beroering gehad.

En toe die dag wolkloos en sonder ’n haelstorm opdaag en verbygaan, het Wellington se mense geen geheim van hul misnoeë in dié vreemde groepie gemaak nie.

Kort daarna het Wellington se Wederdopers met ’n nuwe storie vorendag gekom. Een van hulle lede, Jan Retief, ’n voormalige onderwyser op die dorp en gewese voorleser in die plaaslike NG Kerk, sou volgens hulle op ’n sekere dag lewend vanaf Hexenberg na die hemel opvaar.

Retief het wel op die bestemde dag, behoorlik geklee in ’n spierwit laken, saam met ’n groot aantal mense by Hexenberg opgedaag. Daar het hy op ’n stapel hout geklim en gereed gemaak om te vertrek. Die hout is aan die brand gesteek en almal het in spanning gewag dat Retief moes vertrek. Hy het egter nie weggekom nie.

Toe die vlamme aan sy voete begin lek, het hy soos blits van die stapel hout afgespring en die hasepad gekies.

Dit was die einde van Wellington se Wederdopers.

Hulle woonplek, die eertydse White House van dr Addey, is aan dr Andrew Murray verkoop wat dit in sy bekende skool omskep het.

Die Wederdopers het stil-stil uit Wellington en die omgewing verdwyn.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za