’n Oomlik uit die jaar toet herleef
2010-04-01
Johan Nel
’n OU, vergeelde foto het vir DH van Niekerk, ’n boer van Wellington, gehelp om vir die oesfees van voorverlede week ’n bul van ’n optog deur Wellington se strate te reël. Dit was vanjaar die derde agtereenvolgende jaar dat hy die optog vir Wellington se Landbouvereniging moes reël. Net toe hy begin wonder hoe hy vanjaar se optog anders as die vorige optogte kan laat lyk, val sy oog op ’n baie ou foto: dit is in Junie 1948 geneem toe die brug oor die spoorlyn aan die onderpunt van Hoofweg feestelik ingewy is en toon ’n klomp mense en motors op Hoofstraat se spoorwegbrug. In die een hoek kan jy die Railway Hotel sien en op die agtergrond lê die ou Flag Kafee en die geboue langsaan. Daar was groot blydskap oor die bou van die brug, waarvoor 20 jaar gewag is, aangesien padgebruikers voorheen oor die spoorlyn en deur die rangwerf moet sukkel met hul waens en karre. DH het skielik besef dat dieselfde ou kafee en die geboue langsaan vandag weer – danksy Fanie Kellerman en sy kinders se restourasiewerk – presies soos op daardie dag in 19-voertsek begin lyk. En net daar besluit hy om daardie presiese oomblik uit die jaar toet weer deel te maak van die Landbouvereniging se Oesfees-optog. Om dit reg te kry, moes hy ou motors in die hande kry. Hy het Langebaan en die Weskus se motorrestoureerders gekontak en op die dag van die optog het ’n stuk of twaalf blinkwiel-motors uit die jare toet op Wellington toegesak. Daar was ’n pragtige Pontiac uit die laat vyftigerjare, ’n Mercury uit die laat veertigerjare, ’n Studebaker, ’n Rambler, ’n pragtige Jaguar sportkoepee, ’n donkerblou Lancia en hope ander. Kort voor die optog in Kerkstraat sou begin, het DH die ou motors na die destydse Flag Kafee laat ry. Op die ou foto wat hy wou herskep, het daar destyds ’n swart 1948 Buick, ’n De Sotho uit dieselfde jaar en nog ’n paar ander in ’n ry tussen ’n klomp mense gestaan. Die Mercury het amper soos die Buick van destyds gelyk en dié het DH voor ’n ou Studebaker en ’n Rambler laat staan. Hy het liewers nie weer mense om die motors laat staan nie, want destyds se boere het almal met flenniebroeke met wye pype en vaal Battersby-hoede gespog, nie met tekkies, kortbroeke en kieriebeentjies soos vandag se ooms nie. Die polisieman op die foto het blink kamaste aan sy voete en ’n helmet op sy kop gehad – en hoe sou superintendent Barkhuizen van Wellington in so ’n mondering lyk? Danksy die restourasiewerk waarmee die Kellermans besig is, het die kafee van destyds weer skitterwit agter die ou motors gestaan, en was die Railway Hotel en al die ander geboue nog almal daar. Kort daarna het die Landbouvereniging se optog deur Wellington se strate begin met die veteraanmotors, ’n horde trekkers wat deur Niel Louw van Hexberg gerestoureer is, en ’n vrolike boere-orkes op ’n ossewa.
More
News
|