Oud-Hugenoter doen sy deel vir waterbewusmaking
2010-04-08
Engela Duvenage
OUD-HUGENOTER Altus Jacobs het op 6 April op die rug van ’n KTM 950 Adventure S vertrek om sy deel te doen ter bevordering van waternavorsing in Suider-Afrika. Jacobs (29) sal deur Botswana, Zambië, Malawi en Mosambiek toer saam met vriend Cobus Botes as deel van ’n bewusmakingsprojek oor die belangrike waternavorsingswerk wat by verskeie Suider-Afrikaanse universiteite en navorsingsinstellings gedoen word. Hul mikpunt is om uiteindelik op 23 April betyds vir die tweede bestuurskomiteevergadering van die NEPAD Watersentra van Uitnemendheid-projek in Durban aan te kom. Wiele vir Water (“Wheels for Water”), soos hul avontuur gedoop is, is nie net ’n bewusmakingspoging oor die stand van water in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) nie, maar ook van die NEPAD (“New Partnership for Africa’s Development”) Watersentra van Uitnemendheid-projek. Dit het die steun van die Suid-Afrikaanse Departement van Wetenskap en Tegnologie sowel as die Europese Kommissie, en word deur die Universiteit Stellenbosch (US) gekoördineer. Die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van die Wes-Kaap en die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) is onder meer by die inisiatief betrokke, wat samewerking en kennisoordrag tussen organisasies gemoeid met waternavorsing in die SAOG-streek wil aanmoedig. Dié oud-Wellingtonner wat deesdae in Stellenbosch werk, het sy eerste behoorlike motorfiets sowat agt jaar gelede aangeskaf. Sedertdien het hy menige langafstandritte agter die blad. Belangstellendes kan hul vordering op Facebook volg by “NEPAD Awareness Campaign - Africa 2010”.
More
News
|