’n Inisiatief teen rassisme
2010-04-15
Johan Nel
’n SPLINTERNUWE sosiale netwerkgroep wat rassisme in Suid-Afrika wil beveg en wat deur ’n jong Wellingtonse student op die been gebring is, is op die oomblik besig om op die internet teen ’n ongekende snelheid te groei. Die groep, wat as die Green Skin-inisiatief bekend staan, is op Dinsdag 7 April op Facebook geskep deur Christoff Smuts, ’n student aan die Wellingtonse kampus van CPUT. Suid-Afrikaners het feitlik onmiddellik in groot getalle begin aansluit. Vroeg Saterdag het die groep reeds op 23 744 lede gestaan. ’n Week ná die stigting van die netwerkgroep, op Dinsdag 14 April, het die aantal lede reeds gegroei tot net meer as 38 000. Daarna is dit onverklaarbaar geblokkeer. “Die reaksie was oorweldigend. Ek het gewéét die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners wil nie deel wees van die rassistiese haatspraak wat die afgelope week opnuut weer oor die land gespoel het nie. “Ek het nog altyd geglo dat die meerderheid Suid-Afrikaners goeie mense is wat glo in die toekoms van ons land. Die Green Skin-inisiatief bied aan hulle ’n platvorm waar hulle uiting kan gee aan hul positiewe toekomsverwagtinge.” “Hierdie is nie ’n politieke inisiatief nie, dis ’n morele inisiatief. Dit word gedryf deur individue wat weet rassisme is ’n siekte wat mense doodmaak. “Ons wil ’n positiewe verskil in ons land help bewerkstellig. Ons wil nie vasval in rassisme en rassepolitiek nie, ons is Suid-Afrikaners wat wil aanbeweeg.” Smuts, wat ’n derdejaarstudent in kantoorbestuur en -administrasie by CPUT op Wellington is, het op Porterville skoolgegaan. Sy oupagrootjie was ’n broer van die vermaarde boere-generaal en eertydse eerste minister van Suid-Afrika, genl Jan Smuts. Volgens hom is daar op die kleur groen besluit omdat dit een van die kleure is wat gebruik word wanneer daar na die rasse-verskeidenheid in die land verwys word - wit, swart, groen, ens. ’n Groot landwye optog vir vrede en vir ’n nie-rassige Suid-Afrika word in die vooruitsig gestel. .
More
News
|