Leraars na eiland
2010-04-15
OP 25 Maart het Paarlse predikante van die Anglikaanse Kerk, NG Kerk en Verenigende Gereformeerde Kerk en hul vroue ’n besoek aan Robbeneiland gebring. Onder leiding van dr Deon Snyman van die “Justice and Reconciliation Group” van die St George’s Kerk het die groep ’n aantal plekke besoek: Mnr Nelson Mandela se sel; die begraafplaas vir melaatses wat tussen 1846 en 1931 in ’n hospitaal vir melaatses op die eiland gesterf het; ’n kramat ter ere van ’n Indonesiese prins wat in 1754 op Robbeneiland dood is nadat hy daarheen verban is omdat hy die Nederlandse kolonisasie van sy land teengestaan het; die huis waarin mnr Robert Sobukwe aangehou is; en die kalk-steengroef waar die politieke gevangenes destyds moes werk. Die besoek het geëindig in die Anglikaanse kerkie op die eiland. Hier het die groep hulle verhale met mekaar gedeel, opnuut mekaar om vergifnis gevra vir waar hande in die verlede “in onskuld gewas” is, en hulle eenheid verklaar as gelowiges van verskillende kerke en verskillende bevolkingsgroepe. Die groep is sterk verbind tot die groei van versoening in die Vallei.
More
News
|