Vlakvark vat pad
2010-04-15
Lise Beyers
PERSONEELLEDE van die Afrikaanse Taalmuseum was vandeesweek in trane nadat skrootdiewe ’n waardevolle brons kunswerk hiér gesteel het. Die diefstal is Woensdagoggend ontdek, toe werknemers nie soos oudergewoonte gegroet is deur ’n lewensgrootte brons standbeeld van ’n vlakvark in die tuine van die museum in Pastorielaan nie. Net die voetstuk van die standbeeld het agtergebly. Skrootdiewe het oënskynlik Dinsdagnag oor die muur van die museum geklim, die voete van die standbeeld afgesaag, en dit hierna weggedra. Ten minste twee diewe moes hiervoor verantwoordelik wees aangesien die vark bykans 150kg weeg. Hulle het waarskynlik met hul buit in ’n wagtende motor ontsnap. Die standbeeld wat deur bekende Stellenbosse kunstenaar Stephen Rautenbach gemaak is, staan sedert September in die tuin van die Taalmuseum, toe dit deel uitgemaak het van die Cultivaria Kunstefees. Rautenbach was geskok toe hy die nuus ontvang dat sy kunswerk ter waarde van R220 000 gesteel is. ’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat alle skroothandelaars ondersoek sal word om vas te stel of die diewe by een van hierdie handelaars van hul buit ontslae geraak het. * A bronze statue valued at R220 000 has been stolen from the Afrikaans Language Museum.
More
News
|