Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gretig vir sukses

Gretig vir sukses
 
2010-04-15

Jaco van Wyk

TYDENS oefensessies moet Glenn Ward die diskus tot eenduisend vyfhonderd keer vanuit sy rolstoel slinger, voordat sy afrigter by die Maties Sportsentrum, Karen le Roux, tevrede is met die dag se vordering.

Twee goue SA kampioenskaps-medaljes in Port Elizabeth twee naweke gelede, is egter die resultaat van dié streng afrigtingsmetodes.

Die 20-jarige Ward sal ook nie kla nie, want nadat hy sowat twee jaar gelede weens ’n frats-motorfietsongeluk gedeeltelik verlam is, is hy net dankbaar dat hy steeds sy sportpassie kan uitleef.

“Sport was nog altyd my lewe,” sê Ward, wat op sy dag ’n uitblinker was in rugby en krieket vir Hoër Jongenskool.

“As ek saam met Karen oefen, vergeet ek soms dat ek in ’n rolstoel is. Dit is hoe baie ek dit geniet.”

Ward was nog altyd ’n natuurlike uitblinker in sport. Deesdae oefen hy net soveel harder om op die sportveld te floreer.

Die twee goue medaljes wat Ward vir WP ingeoes het, ná slegs sowat vier maande se atletiek-afrigting, is dus geen gelukskoot nie.

Ward se droom is om die hoogste hoogtes in atletiek te bereik. Nie soseer vir homself nie, maar eerder om sy prestasies te gebruik om ander mense, wat hulself in sy situasie bevind, te inspireer.

“Ek sal graag eendag, as ek my graad in sielkunde voltooi het, wil dien as motiveringspreker.

“Mense sukkel soms om die lewe in ’n rolstoel te aanvaar,” sê Ward.

“Ek sal vir sulke mense graag wil moed inpraat.

“Dit gaan egter makliker wees om mense te oortuig, as ek self iets bereik het,” sê Ward.

“Op ’n persoonlike vlak is dit my volgende mikpunt om te kwalifiseer vir die wêreldkampioenskappe, wat in Oktober vanjaar in die buiteland gaan plaasvind,” sê Ward.

Dan vestig Ward ook sy hoop op die junior Olimpiese spele later vanjaar.

“Die ondersteuning van my familie en vriende is egter ongelooflik. Met hulle aan my sy en krag van die Hemelse Vader, is enigiets moontlik.”




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za