Bekende oorlede
2010-04-22
Christine Siebrits
DIE “grande dame” van die destydse Wellingtonse Onderwyserskollege, en Boland Netbal, Esna Zietsman (87,) is op 14 April oorlede. Zietsman was dosent in liggaamlike opvoeding by WOK en vir 40 jaar (1957-1996) aktief betrokke by Boland Netbal waar sy ook ’n stigterslid was. Haar kollege-netbalspanne het menige trofeë en skilde gewen. Sy was bemind by almal wat haar geken het. In die laaste jare was sy baie aktief betrokke by die ACVV Dienssentrum op Wellington. Selfs in haar tagtigerjare het sy die wil en energie gehad om ’n verskil in die dorp en die gemeenskap te maak. In 2003 is sy deur die Rapportryers van Wellington vereer as mede-Wellingtonner van die jaar saam met Charlotte Cupido. Sy is geloof vir haar toewyding aan die kerk, haar deernis en liefde vir die jeug en ook bejaardes. Sy was deurentyd aktief deel van verskeie kultuuraktiwiteite en ook direk betrokke by verskeie inisiatiewe vir ontwikkeling. Zietsman, ’n Humansdorper van geboorte, het vroeër jare op Tulbagh, Kirkwood en Beaufort-Wes onderwys gegee. By haar aftrede ná 34 jaar diens, was sy departementshoof vir liggaamlike opvoeding aan die Wellingtonse Onderwyserskollege. Sy was ook bestuurslid van die Boland Netbalunie, stigterslid, sekretaris en later ook voorsitter en keurder. In 1982 ontvang sy die SA Diensmedalje vir 20 jaar diens in die SA Vrouenetbalvereniging.
More
News
|