Vietse polisiemag beoog
2010-04-22
Lise Beyers
OORGEWIG en ongesonde polisiebeamptes behoort iets van die verlede te wees as nasionale polisiekommissaris, generaal Bheki Cele, sy sin kry. Cele het onlangs ’n nasionale fiksheidsveldtog geloods onder sy offisiere om nie net vir hulle meer paraat te maak nie, maar ook om hul beeld by die breë publiek te poets as ernstige misdaadsbekampingsoffisiere. En beamptes in die Paarl gaan ook nie hierdie inisiatief vryspring nie. Kaptein Christo Ross is gevra om hierdie program te lei vir die Drakenstein-gebied. Ross is ’n ervare sportman wat ’n passie vir ’n gesonde leefstyl het. Hy het al vantevore sy eie gimnasiums besit en is ook ’n bekende karate-deelnemer en afrigter. Ross se plig is om alle offisiere te assesseer rakende hul fiksheid, gewig en beendigtheid. Altesame 90 beamptes word weekliks deur hom gemonitor en geassesseer. “Dan word ’n kardiovaskulêre en gewigsoefenprogram vir hulle saamgestel, asook ’n eetprogram. “Selfs in net een week toon baie van hul lesings ’n positiewe verbetering. “Die doelwit vir hierdie projek is om polisie-offisiere bewus te maak van hul gesondheid en aan te spoor om fiksheid en gesondheid ’n deel van hul lewens te maak. “En diegene wat ’n dieet moet volg, moet besef dat dit nie net beteken dat ’n mens noodwendig minder moet eet nie, maar ook korrek. “’n Ongesonde leefstyl kweek kwale en dit lei dikwels tot onproduktiwiteit in die werksplek. Ons wil ’n wenspan kweek deur hierdie inisiatief.” Die program bied ook ’n holistiese benadering oor gesondheid, met die dienste van ’n dieetkundige en biokinetikus wat beskikbaar is vir polisiebeamptes. Offisiere sal ná drie maande op hul eie gesondheidreis weer deur Ross geassesseer word om hul vordering na te gaan. Indien nodig sal hul fiksheidsprogram en dieet aangepas word. “Ek kan net vir hulle in die regte rigting wys. Hulle moet van daar af self die pad loop.” ’n Moderne gimnasium is vir polisiebeamptes by Huis Pêrelvallei ingerig. Alle polisie-offisiere kan in hul vrye tyd gebruik maak hiervan. En binnekort sal die belastingbetaler ook hopelik minder moet opdok vir polisie-uniforms as die mates begin krimp. * Police officers are being encouraged to slim down and muscle up, and in doing so, deliver a better service.
More
News
|