Gemeenskapsmens sterf
2005-09-15
’n BEKENDE inwoner van die Paarl, Ron Hendricks (73), is verlede Woensdag oorlede ná ’n hartverwante operasie.
Hendricks was bekend as mensevriend en het veral ’n intense passie gehad vir dienslewering aan gestremdes.
Hierdie afgetrede onderwyser het onlangs bedank by Radio KC, waar hy die afgelope jaar die stasiebestuurder was.
Hendricks is op 13 Julie 1933 in Malaystraat, Ou Tuin, in die Paarl gebore.
Hy het sy skoolloopbaan by die Holy Trinity kerkskool begin en matrikuleer op Genadendal.
Hierna het hy hom as onderwyser bekwaam by Hewat, met Engels as hoofvak.
Sy eerste pos was by Hoërskool Albert Myburgh op Bredasdorp. Hier trou hy met sy eerste vrou, Ruth Dyers. Vier kinders word uit die huwelik gebore - Mano, Ronel, Alvin en Deon.
Mano verdrink op 10-jarige ouderdom en hulle neem nog ’n seun, Hilton, aan.
Die gesin verhuis Paarl toe, waar Hendricks by Blossom Primêr skoolhou. Later word hy adjunk-hoof by William Lloyd Primêr.
Tussendeur studeer hy verder. In 1975 skryf hy deeltyds by Hewat in vir kinderleiding en in 1982 doen hy sy HOD by UWK.
Sy belangstelling in gestremde kinders kom na vore toe hy aangestel word as hoof by ’n kerkskool vir gestremdes in Elsiesrivier.
Hierna begin hy die Oasis skool vir gestremdes in Belhar, waar hy hoof is tot en met sy aftrede.
Intussen help hy ook met die stigting van die Ligstraal Skool en die Paarl Stimulasiesentrum, waar hy ook bestuurslid was.
Die afgelope ses jaar is hy voorsitter van Drakenstein Sentrum vir Persone met Gestremdhede.
Hendricks was sedert 1989 betrokke eers by Paarl Vereniging vir Persone met Liggaamlik Gestremdhede en toe Drakenstein Sentrum. Hy is in September 1999 verkies tot Provinsiale Voorsitter van Wes-Kaap Vereniging vir Persone met Liggaamlike Gestremdhede en het daardie portefeulje beklee tot sy afsterwe.
Hy het as bestuurslid van Nasionale Raad vir Persone met Liggaamlike Gestremdheid in Suid-Afrika gedien en ook op verskillende komitees.
Hendricks het ’n passie gehad vir dienslewering aan persone met gestremdhede en sy droom was dat Drakenstein Sentrum sy eie grond en geboue moes hê. Hy was gereeld in kontak met die munisipaliteit in dié verband.
“Ons het ’n vaderfiguur verloor en sal hom altyd onthou vir sy goeie sin vir humor en die feit dat hy jonk van gees was,” sê Celista Gerber van die Drakenstein Sentrum.
“Watter ander 70-jarige sal saam met sy personeel en werkswinkelkliënte saamgaan Ratanga Junction toe en aan al die pretritte deelneem?
“Ons gaan hom ongelooflik baie mis, maar sal altyd sy droom in ons harte saamdra en daarna streef om dit uit te leef.”
Harlan Cloete het namens Koinonia en Radio KC sy meegevoel met die familie uitgespreek: “Die gemeenskap het ’n reus verloor en God het een van sy bestes teruggeneem.
“Hier was ’n man wat op 73 nog die energie en die toegewydheid gehad het om sy mense te dien met onderskeiding, passie en toewyding.
“Paarl het ’n kunstenaar, musikant, onderwyser, vader, eggenoot, vriend, maar meeste van alles ’n leier verloor.”
Hendricks se eerste vrou het hom in 1983 ontval.
In 1989 is hy met Moira Cupido getroud. Hulle was meer as 16 jaar getroud en haar twee kinders, Aldo en Monique, het hy soos sy eie kinders aanvaar en grootgemaak.
“Ron het in alles onder die son belang gestel,” vertel Moira.
Hy was op die hoofbestuur van die KPO-bestuur en dien ook in die Paarl-tak.
Hy het toneel gespeel in die Ou Meulteater en was ook op die bestuur van die teaterklub.
As musikant het hy saksofoon, banjo, klawer, orrel, klavier, mondfluitjie en wat nog meer gespeel. As lid van die Swinging Matadors band het hy selfs tot in Namibië getoer.
Hy was lief vir tuinmaak en het orgideë, asters en anthuriums gekweek.
Hendricks word oorleef deur sy vrou, Moira, ses kinders en agt kleinkinders.
Die begrafnis was gister in die Holy Trinity Kerk.
More
News
|