Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Moeder na aan sy hart

Moeder na aan sy hart
 
2010-04-29

Devidean Moses

VIR ’n plaaslike verkeersbeampte, Morné (Kubaan) Goetham (33), is elke dag eintlik maar Moedersdag, maar hy het groot planne om vir sy ma, Maree, op 9 Mei spesiaal te maak.

Maree (60) het vanjaar ná 41 jaar uitgetree as opvoeder by Nederburg Primêr.

Sy is baie dankbaar om Morné se ma te kan wees: “Hy is soos my sielsgenoot en ons het baie respek vir mekaar,” sê sy.

“Hy is ’n ware staatmaker en iemand op wie ek kan vertrou,” sê sy met trots.

Sy vertel ook dat sy net liefde van hom op hierdie spesiale dag wil ontvang en verwag geen groot geskenke nie.

“Eintlik bederf hy my elke dag. Op Moedersdag bederf hy my gewoonlik met ontbyt in die bed en gee my ’n blom.”

Vanjaar wil Morné graag sy ma na ’n restaurant uitneem vir ’n spesiale ete en dan die dag met haar ten volle benut.

“My ma is ook my beste vriendin van wie ek my inspirasie kry en ek glo dat haar leerders ook so gevoel het.

“Ek kan baie wyse dinge van haar leer en dis waar ek my deursettingsvermoë kon opbou. Nou dat sy uitgetree het as opvoeder voel ek dat sy nou ten volle moet rus.”

Hy is al die afgelope agt jaar verkeersman en spandeer ook baie tyd op die rugbyveld.

Hierdie jong man skets sy ma as ’n spontane vrou wat altyd weet hoe om ’n partytjie op te vrolik met haar grappies.

Maree het verlede jaar ’n heupoperasie ondergaan, maar wil nogtans nou in haar vrye tyd gemeenskapwerk vir bejaarders, Vigs- en kankerlyers verrig. Verder beplan sy ook om deur die land te toer.

Juffrou Goetham was die onderwyser met die langste diens by Nederburg Primêr en het soos ’n moeder vir talle van haar leerders opgetree.

Kinders kon net goeie raad van haar verwag en so kon sy hulle met verskeie probleme help.

“My kollegas is soos ’n familie vir my en nou gaan ek hulle baie mis.“

Sy raai ouers aan om aandag te gee aan hul kinders.

“Ouers moet onthou om meer betrokke by hul kinders se opvoeding te wees en die deursettingsvermoë en geduld hê om elke dag na hulle te luister,” beveel sy aan.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za