Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Nazli se deur staan altyd oop

Nazli se deur staan altyd oop
 
2010-04-29

Jaco van Wyk

DAAR was nog altyd ’n oopdeur-beleid by tannie Nazli se huis. Klop een maal en stap in - al die kinders van Goethamstraat weet dit al.

“Al is dit net vir ’n ou geselsie, vir iets om te drink of om by my kinders te kuier, hier is maar altyd lewe in ons huis,” sê Nazli Gaidien trots.

Geen wonder die buurt se kinders beskou die Gaidien-woning as hul tweede tuiste nie - Nazli is dan altyd so vriendelik.

“Ek is eintlik ’n huisvrou,” probeer Nazli verduidelik, voor haar dogters gelyktydig induik om hul ma tergend op te stry.

“Ma is ook ’n kok, ’n swemafrigter, kleremaker, taxi-bestuurder, koerier en sekretaresse. Ma is altyd bereid om te help.”

Nazli en haar man, kleremaker Al-Amiem Gaidien, het oor die jare sekerlik hul hande vol gehad het met vier sportiewe dogters onder een dak.

Malikah (26), Wesaal (23), Ilhaam (19) en Kulthoom (15) ontken dit ook nie.

“Dink gou, in ’n huishouding met vier dogters verdra my ma nogal baie mense se buie,” sê Malikah, deesdae ’n fisioterapeut in die Kaap.

“My ma is beslis die geduldigste persoon wat ek ken,” voeg Wesaal by.

Met Wesaal se woorde skaars koud, kom die bure se seun, Chad Marthinussen ingestap en groet.

“Chad is al soos ’n seun in ons huis. Ek het juis nou die dag sy broek reggemaak,” sê Nazli, wat gereeld uithelp by haar man se winkel.

“Ek hoef nie eens meer te klop nie,” sê Chad trots, terwyl hy ’n stoel nader trek.

“As ek die dag nie sport het nie, is ek amper altyd hier. En as ek gelukkig is, score ek selfs ’n skon of twee,” gooi Chad ’n skimp in Nazli se rigting.

“Nee regtig, ek kan met enigiets na tannie Nazli toe kom. Sy sal nooit nee sê nie.

“Dit is waar,” sê Ihlaam, “my ma plaas ander altyd eerste en dink nooit aan haarself nie.”

Verlede jaar wou Nazli se dogters geld uithaal om vir hul ma ’n behoorlike 50ste verjaardagpartytjie te hou.

“Omdat almal my ma so goed ken, was so baie mense bereid om te help, dat die partytjie ons toe amper niks gekos het nie,” sê Wesaal, wat tans haar honneursgraad in sportwetenskap doen by UWK.

Kulthoom, die baba in die huis wat tans in graad 10 is by Hoër Meisieskool, is vas oortuig dat dit haar ma se“liefdevolle gesindheid” is wat haar so gewild maak onder ander mense.

“My ma se liefde stop nie net by haar gesin nie, maar gaan uit na almal rondom haar,” sê Kulthoom.

“Maar my gesin sal altyd eerste kom,” voeg Nazli vinnig by.

Een ding wat Nazli se dogters by haar geërf het, is haar liefde vir sport.

Nazli is reeds die afgelope 22 jaar ’n lid van Paarl Aquarius swemklub (waar sy ook swem afrig) en het op haar dag ook nie te sleg gevaar op die atletiekbaan nie.

Só het al die Gaidien-dogters ook op sportvlak uitgeblink - met ’n rak propvol medaljes wat dien as bewyse hiervan.

Deesdae is dit Kulthoom en Ilhaam wat die Gaidiens se sportfakkel steeds helder laat brand.

Kulthoom floreer in paalspring en Ilhaam, tans ’n tweedejaar-onderwysstudent by UWK, is onlangs ingesluit in die Boland vroue-hokkiespan.

Volgens Nazli is sport ’n belangrike deel van enige kind se lewe, dus put sy baie genot daaruit om die kleintjies by die Paarl-Oos swembad af te rig.

“Ek glo sport hou kinders uit die kwaad uit,” sê Nazli.

Swem is egter ’n sport waaraan al haar dogters deelgeneem het.

En die rede hiervoor is eenvoudig volgens Nazli.

“Ek sê altyd: learn to swim and save a life.”




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za