Die appel van nie ver van die boom
2010-04-29
Liezl Dyson
DIS nie aldag dat ma en dogter in dieselfde jaar in dieselfde rigting studeer nie. Cathrine Collins, ’n suster by TC Newman Hospitaal, se dogter Clairneal Collins (23) meen haar ma is haar rolmodel, haar trots en inspirasie. “My ma dra haar verpleeguniform met waardigheid en trots, en dit inspireer my.” Clairneal het besluit om ná skool in haar ma se voetstappe te volg en het verlede jaar die graad in verpleging aan die Universiteit van Wes-kaap met vier onderskeidings geslaag. Sy is tans ’n verpleegkundige by Karl Bremer Hospitaal. Haar ma het ook verlede jaar studeer en ’n diploma in Primêre Gesondheidsorg (Kliniese Verpleegpraktisyn) aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Sy het ook met vier onderskeidings geslaag. “Vir ’n maand het ek en Clairneal altwee by die Universiteit van Stellenbosch klas geloop en dit was so ’n opwindende tyd vir ons altwee. Clairneal was in die Engelse klas en ek in die Afrikaanse klas en wanneer een van ons af was, het ons by mekaar se klasse ingesit.” Ma en dogter kon ook mekaar help met die verskillende vakke en ondersteuning bied as die een dalk wou tou opgooi. Cathrine, wat al vir 22 jaar ’n verpleegster is, kon vir Clairneal raad gee oor die praktiese sy van die beroep en Clairneal kon weer haar ma met die teoriegedeelte help. Tydens Clairneal se gradeplegtigheid kon haar ma saam met haar die eed aflê. “Ek sou nooit kon droom dat ek die eer sou kry om saam met my dogter die eed te kon aflê nie. Dit was ’n seëning vir my en ek sal dit vir niks op aarde verruil nie.” Nie net het ma en dogter verlede jaar met hul neuse in die boeke gesit nie, maar het klein Inge (12), Irvin (19) en pa Ivor ook hard geleer. Inge het verlede jaar eerste in haar graad gestaan en Irvin het matriek geslaag. Volgens Clairneal is sy dankbaar om ’n ma te hê wat haar so ondersteun en die potensiaal in haar raaksien. “My ma leer ons van menslikheid, nederigheid en om ander mense met liefde te behandel. As ek sien hoe sy met mense werk, dan inspireer dit vir my om haar eienskappe elke dag saam met my te dra,” vertel Clairneal. Clairneal beplan om volgende jaar haar studies verder te neem, maar probeer nog haar ma te oorreed om dié nuwe uitdaging saam met haar aan te pak. Die Collins-gesin beplan iets spesiaals vir hul moeder op Moedersdag, maar wil vir eers geen geheime oor dié spesiale dag verklap nie.
More
News
|