Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Man met die Boland-rugbyplan

Man met die Boland-rugbyplan
 
2010-04-29

Jaco van Wyk

HY kom al die pad vanuit Blou Bul-wêreld, om te kom wei in die vallei van die Wynboere.

Renier Swart, Pretoria se sakeman van die jaar in 2001, weet seker waarvan hy praat as hy sê Boland Rugby “het die vermoë en talent om die hoogste vlak in Suid-Afrikaanse en wêreldrugby te bereik”.

Met Peter de Villiers, Victor Matfield en Kurt Darren as wesenlike vennote in Swart se maatskappy Game Plan, wil dit voorkom of die Boland Kavaliers hulself in goeie hande bevind.

Game Plan het onlangs 50% van die Boland Rugy-unie se aandele gekoop.

“Dit was ’n eens-in-’n-leeftyd-geleentheid en ons het dit gevat,” sê Swart.

Die Springbok-afrigter se betrokkenheid in dié maatskappy is ietwat te verstane. De Villiers, ’n Bolander in murg en been, het per geleentheid al erken dat hy graag eendag sal wil terugploeg in rugby in sy tuisdorp.

Matfield en Darren se aandeelhouding het egter die publiek se oë laat rek. Hoe kry jy dat ’n man sy heilige Blou Bul-trui verruil vir die trui van ’n ander provinsie? Die ‘koninklike klerasie’ van die Blou Bulle is mos heilig?

“Ek en Victor kom al ’n lang pad saam en het lankal besluit om so iets te doen,” verduidelik Swart oor die Springbokslot se betrokkenheid in Game Plan.

“Kurt en ek is ook goeie vriende. Hy is boonop een van die bekendste gesigte in Suid-Afrika en een van die beste bemarkers in ons land,” voeg Swart by.

Swart, ’n geoktrooieerde rekenmeester, het 37 jaar lank in Pretoria gebly, voor hy drie jaar gelede besluit het om na die Wes-Kaap te verhuis.

Die noorde was egter goed vir Swart, wie se besigheidsbelange strek vanaf motorhandel tot eiendom en die wildjag-industrie.

Hy was vyf maal Nissan se finansiële handelaar van die jaar, twee maal Alfa Romeo se handelaar van die jaar, asook Fiat handelaar van die jaar.

“Ek sal altyd ’n sagte plekkie vir die Bulle hê, maar my lojaliteit lê nou by die Boland,” sê Swart, ’n slimkop wat 7 jaar lank vir Noord-Transvaal skaak gespeel het.

Die plan is om Boland se spelers te ontwikkel en te behou en selfs ’n paar spelers terug te lok na hul tuis-unie toe. Sodoende kan Boland Rugby ook ’n groter rol speel by die Stormers franchise.

“Ons wil ook Boland se o.19- en o.21-spanne verander van amateur tot professioneel,” sê Swart.

“Dit was nog altyd my droom om ’n sportklub te bestuur en te besit en ek moet bou aan ’n toekoms vir my en my gesin,” sê Swart.

“Die geleentheid het oor my pad gekom toe Francois Davids my genader het, en ek het besluit om dit aan te pak.”

Hoewel hy ’n reuse-passie het vir sport, erken Swart ook dat hy eintlik maar ’n doodgewone familieman is.

Hy, sy vrou Leigh, en hul eenjarige dogtertjie Christie, woon tans in Pearl Valley, “maar ons is besig om te bou op Val de Vie”.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za