’n Vrou se waarde is ver bo dié van korale
2010-05-06
Liezl Dyson
"Ek is ’n doodgewone vrou, wat alle uitdagings wat met vrou-wees gepaard gaan, deurmaak.” Só beskryf Radio KC se bekende “Koraalvrou” haarself. Unita Abrahams-Pretorius het bekendheid verwerf vir haar program wat Donderdae en Sondae in talle Radio KC-luisteraars se huise kuier. Sy is ’n motiveringspreker wat aan vroue die boodskap gee dat jy kán ’n sukses van jou lewe maak, wat ook al jou omstandighede is. Unita, ’n ma van drie seuns en ’n ouma van een kleinkind, het nie altyd geweet watter waarde in haar as vrou steek nie en het net soos ander vroue moeilike tye deurgemaak, maar vandag het sy uitgestyg en haar droom bewaarheid. Unita het grootgeword in die Paarl en het vir 17 jaar by Checkers gewerk. Op die ouderdom van 19 jaar het sy haar eerste baba gehad. “Ek het drie mislukte huwelike agter die rug, maar ek het steeds in myself bly glo.” In een jaar het sy ’n miskraam gehad, het sy haar werk verloor, is sy van haar derde man geskei en staan haar oupa aan die dood af. “Ek het gevoel ek is vervloek en ek het in ’n depressie verval en ’n senuwee-ineenstorting gehad. “In my swak toestand van vrou-wees het ek een oggend voor die spieël gesit, en toe sien ek ’n mooier vrou diep binne my raak as wat die spieël vir my terugflits.” Kort hiérna het Unita besluit om sendingwerk te gaan doen waar sy vroue wou leer dat die grootste liefde is om jouself lief te hê. Vir ’n jaar lank het sy praatjies gehou in Egoli-woongebied in Wellington waar sy met verskeie vroue onder moeilike omstandighede gewerk het. “Dit is ook hiér waar ek herstel het en besef het dat dít is wat my gelukkig maak.” Sy het ’n vriend, Gerchin Balie, wat in die videobedryf is, ontmoet en het as sy agent opgetree. “Hy het ’n kontrak by Radio KC gekry om ’n dokumentêr te doen en dit is hoe ek die idee gekry het om my boodskap aan vroue deur middel van die radio oor te dra. “In 2006, toe ek die eerste keer my voete by Radio KC sit, pak die gedagte my beet dat ek op die radio vir vroue kan sê dat die Here die enigste een is wat jou ’n tweede kans in die lewe bied.” Unita het geen radio-ondervinding gehad nie, maar elke keer as sy in die dorp was, het sy by Radio KC ingegaan om te vra of sy nie op die radio met vroue kan praat nie. “Uiteindelik het ek die geleentheid gekry om as gas deel te wees van ’n program en ek was baie opgewonde, maar kon nie alles sê wat ek graag wou sê nie.” Sy het keer op keer teruggegaan na Radio KC om te luister wat haar kanse is om weer ’n geleentheid te kry om op die lug te praat. “Een dag toe ek weer by Radio KC gaan inloer, toe sê die bestuurder skielik vir my ek gaan nou op die lug. “Die ervaring was angswekkend - ek het gebewe soos ’n riet, ek het gesweet, my mond was droog, maar my passie was vuurwarm.” Die Koraalvrou se program “Gee my die liefde”, het op 13 Februarie 2006 op die lug gegaan en sedertdien het al hoe meer vroue begin inskakel om na die Koraalvrou se motiverende boodskappe te luister. “Ek wil hê vroue moet weet ek is nie alleen koraalvrou nie - elke vrou is ’n koraalvrou met waarde. Dit maak nie saak wie jy is nie, waar jy bly nie of hoe jy lyk nie. Waarde het niks te doen met waar jy grootgeword het nie of met wie jy getrou het of watter littekens jy al in die lewe opgedoen het nie, want binne jou is daar ’n paradysvrou wat jy moet vind. “Ek het vlerke gekry met my program en leef nou my droom.” Sy doen ’n beroep op vroue om haar te kontak indien hulle nodig het om te praat. Haar program is elke Donderdag van 10:00 tot 11:00 op die lug en elke Sondag van 19:00 tot 20:00. Vir Moedersdag verwag dié moeder geen aardse geskenke nie: “Die grootste geskenk wat my kinders vir my gee, is liefde en respek en dit is ook ’n groot geskenk om die ma van gesonde kinders te wees.” Die Koraalvrou kan gekontak word op 072-188-5685 of koraal@gmail. com. Sy is ook beskikbaar vir praatjies.
More
News
|