Dit kook by huishulpe se kursus
2010-05-13
DIE heel eerste kookkursus vir huishulpe wat deur die Wamakersvallei-opleidingsentrum in Wellington aangebied is, is verlede week afgesluit met ’n spog-dinee vir bykans 50 gaste. Volgens Sannie Nel, wat die kursus opgestel en by die sentrum aangebied het, het altesaam 12 studente die kursus oor twee maande suksesvol voltooi. Verlede week se afsluitingsdinee is spesiaal gereël om aan die studente ’n geleentheid te gee om hul nuwe vaardighede ten toon te stel. By die dinee is ’n tafel met vier gaste aan elke student toegewys. Die studente moes elkeen eiehandig hul tafels kunstig voorberei en hul eie driegang-ete vir die vier gaste in die sentrum se nuwe kombuis voorberei. Die maatskappy Douglas Green, wat deur ’n borgskap die kombuis vir die sentrum ingerig het, het ook die wyn vir die afsluitingsdinee geborg. Die meeste van die voedsel wat deur die studente vir die voorbereiding van hul 50 etes gebruik is, was geborg deur Pick n Pay van Wellington terwyl Kekkel & Kraai die vleis vir alle hoendergeregte by die dinee teen spesiaal verlaagde pryse aan die studente beskikbaar gestel het. Die eerste kookkunsstudente asook die studente in tuisverpleging ontvang hul sertifikate eerskomende Vrydagaand op ’n spesiale plegtigheid by die sentrum. Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister vir sosiale ontwikkeling, sal die eregas by die geleentheid wees.
More
News
|