Slenkdalkoors tref jagters swaar
2010-05-27
Lise Beyers
TALLE plaaslike jagters wat jaarliks staatmaak op ’n Namibiese jag, sit tans in ’n penarie met die uitbreek van Slenkdalkoors in dié land. Vee-vrektes het voor- verlede week sy kop uit- gesteek in die Hardap- en Karas-streek van Namibië en die grens tussen dié land en Suid-Afrika is summier gesluit vir die uitvoer van vleisprodukte. Biltongjagters vanuit Suid- Afrika sal dus nou ’n ander plan moet maak met hul jaarlikse jagtog, omdat hulle nie die vleis kan huis toe neem nie. Slegs 10 kg breekbare biltong en droëwors mag in hierdie stadium per voertuig uitgevoer word, en dan moet die vleis afkomstig wees vanaf ’n goedgekeurde uitvoeronderneming. Verskeie plaaslike jagters wat in die land was toe die verbod bewerkstellig is, sit nou in Namibië vas met hul vleis wat hulle nie kan terugbring nie. Dit is nie net ’n geweldige slag vir die toegewyde jagter nie, maar die hele jagbedryf in Namibië kan miljoene rande tydens hierdie jagseisoen verloor. Reeds het talle jagondernemings in Namibië duisende rande se deposito's moes terugbetaal aan voornemende Suid-Afrikaanse jagters wat nou hul jagekspedisies moes kanselleer weens Slenkdalkoors. Slenkdalkoors is ’n virale infeksie waarvoor veral vee vatbaar is. Dit is hoofsaaklik oorgedra deur muskiete, maar dit kan opgedoen word deur noue kontak met karkasse van diere wat hieraan gesterf het. Mense kan hierdie siekte ook opdoen, maar as dit vinnig gediagnoseer word, kan dit maklik genees word. Diere vrek egter sonder waarskuwing hiervan en ooie aborteer hul ongebore kleintjies. Die Slenkdalkoors-virus word onskadelik gemaak wanneer vleis teen 2ºC geberg word en tydens die gaarmaakproses. Maar die Namibiese regering is nie bereid om enige kanse te waag nie. ’n Ysige winter en volhoubare inentingspogings kan ontslae raak van hierdie pestilensie, maar tot dan sal die Namibiese regering geen jagpermitte uitreik nie. Dus sal plaaslike jagters elders geleenthede moet soek vir hul jaarlikse biltongvoorraad. En dalk is hierdie uitbraak van Slenkdalkoors ’n gulde geleentheid vir plaaslike wildboere om hieruit munt te slaan.
More
News
|