Biltong en dies meer
2010-05-27
Lise Beyers
AS dit by jag kom, is biltong baas. Dit is immers seker een van dié eetgoed wat eg is aan Suid-Afrika. En nou, met jagtyd wat hier is, hoor ek hoe loop die waaiers in biltongkaste orals. Outyd het die mense slegs sout gebruik vir die inlê van hul biltong. Later is peper bygevoeg, dit is nou om brommers weg te hou, en later het koljander vir geur bygekom. En vandag word suiker bygevoeg om die biltonge ’n sagter tekstuur te gee. Die basiese bestanddele vir 10kg se mooi gesnyde biltongvleise is as volg: 150g tot 300g growwe sout, 90ml bruinsuiker, 5ml salpeter (dis nou net vir ’n mooi kleur), 10ml peper (wit of swart), 200ml heel koljander wat eers in ’n pan effens geskroei is en dan grof gemaal is. Als word goed saam gemeng. Sprinkel ’n laag van die speserymengsel op die bodem van ’n plastiek-kom en pak ’n laag vleis bo-op. Sprinkel die vleise met ’n bietjie bruinasyn en dan nog speserye, en so gaan jy aan. Ek lê my biltonge die aand in, die oggend meng ek hulle goed deur, later die dag weer, en vroegaand hang ek hulle in my biltongkas. Nou hierdie kas het ek met trots self gemaak. Ek het dun kettings binne-in gespan, ’n gat in die dak geboor en ’n industriële waaier daarin geplaas. Onder is twee elektriese koppelinge met gloeilampe in. Só maak ek baie biltong heel suksesvol droog in die winter, eintlik tot diep in die lente. Maar my swaer span eenvoudig draad agter sy yskas, en hang sy biltonge hiér om droog te word. Biltong is maar net een metode om lekker eetbare luggedroogte vleis voor te berei. Verlede jaar met ons jag, het ons ’n heel Springbok-boud ontbeen. Dit doen mens met ’n skerp, dun mes, sny netjies om die been sodat die boud nog heel bly, en trek dan die been versigtig uit. Die boud word dan in biltong-speserye gelê vir twee dae. Dan word dit tussen twee houtplanke gesit en ’n bakkie ry dan met sy wiel tot bo-op die planke en so staan dit oornag. Die volgende oggend word die voertuig afgetrek en die boud word vir ’n week lank gedroog. Sny dun skywe en eet net so, of bedien met ’n sprinkeling olyfolie, varsgedrukte suurlemoensap en dun skyfies pecorino kaas. Neem ook heel Springbokribbetjies en laat lê oornag in biltong-speserye en asyn, en hang dan op met jou biltonge om droog te word. Maar hierdie ribbetjie moet kurkdroog word. Probeer dan ook ’n eenvoudig gesoute Springbokboud. Los die skenkel aan, want die boud moet aan hom hang. Vir ’n vier kilogram boud, neem een en ’n half kilogram growwe sout en ’n halwe koppie bruin suiker en meng dit met 5 liter water, genoeg sodat die boud onder die water lê (indien nodig, verdubbel hierdie resep vir jou soutoplossing.) Maak seker dat die sout en suiker goed oplos in die water. Ek gebruik ’n koelboks hiervoor. Dan maak ek ’n twee liter koeldrankbottel vol water en gebruik dit as ’n gewig bo-op die vleis om dit onder die water te hou. Vir elke kilogram vleis, lê die boud vir 3 dae in die soutoplossimg. Dan word dit eenvoudig in ’n koel plek, soos ’n kelder of biltongboks, sonder enige hitte, gehang vir twee tot drie maande. Ek het onlangs so ’n skaapboud geëet wat ’n vriendin vanuit Noorweë saamgebring het – heerlik. Eet hom net so, of bedien op dun kraakbrood soos Matzos of Ryvita wat met suurroom gesmeer is. Daar is boekdele wat geskryf kan word oor verskillende metodes van soutvleise maak, en dit is beslis die moeite en tyd werd, om hiermee te speel.
More
News
|