Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Koedoejag is nie vir sissies nie!

Koedoejag is nie vir sissies nie!
 
2010-05-27

Lise Beyers

SO word ek twee weke gelede genooi vir ’n Koedoejag naby die Karoo Nasionale Park kort voor Beaufort-Wes.

Alhoewel ek al verskeie kere springbok gejag het op die vlaktes van die Karoo, impala daar doer in die noorde van Musina se wêreld en gemsbok tussen die rooi duine van die Namibiese Kalahari, het die geleentheid om koedoe te jag my nog altyd ontduik.

En daar word ek na die spog-wildplaas Leeurivier genooi. En net soos wat sy naam aandui, loop die Leeurivier deur die plaas, en dis daar, op die ruie oewers, waar die koedoes wegkruip.

Met ons aankoms op Leeurivier was dit vroegaand en reeds donker. Die sterre het in die hemele geblink en ’n mooi dag beloof vir die volgende dag se jag.

My maag het bollemakiesie geslaan met die vooruitsig van my Koedoejag.

Ná ’n rustelose aand met die vooruitsig van ’n groot dag wat voorlê, was ek douvoordag in my jagklere.

Die vroeë oggendlug was helder en vars, met skaars ’n windjie in die lug, maar binne ’n uur sou dit ’n heel ander storie wees.

Die wind tel toe op en dit is net stof wat waai.

Ek weet dat wind ’n bliksem kan wees op die jagveld. Deurgaans moet jy seker maak dat jy met die wind van voor loop sodat die wild nie jou reuk optel nie.

Dan om een of ander rede is dit asof die bokke se sintuie soveel meer sensitief is in winderige omstandighede.

En dit is mislik, maar so moet dit wees, en die jag moet voortgaan.

Ek en my gids, Lukas, word diep in die veld afgelaai en so begin ons stap.

Dit is ruig, erg ruig. Die soetdorings maak die hemele toe en op plekke is hul dorings so groot soos breipenne. Maar hier moet ons deur.

Vinnig het die bloed begin vloei op my arms met talle krapmerkies wat ek opgedoen het.

Elke nou en dan hoor ons die geblaf van ’n koedoe gevolg deur ’n geritsel en gekraak van takke, maar ons oog val nie op die reuse-koedoebul waarna ek op soek is nie.

Net nou en dan spring daar ’n koedoekoei op en hardloop vanuit haar lêplek waar sy skuiling soek van die erge wind.

So is ek later vaal van die stof en my voete pyn van rivierloop in en uit en al bukkende klouter deur die oerwoud van doringbome.

Die dag se einde breek aan en my moed is ook ’n bietjie gebreek. Maar die belofte bly staan dat môre nog ’n dag is.

En so skop die volgende dag af met weersomstandighede wat perfek en windloos was.

Met voete wat reeds die vorige dag seer geraak het en pyne in my lyf waar ek nie geweet het ek het plekke nie, is ons vort, dié keer op ’n ander gedeelte van die plaas, maar ook teen die rivierlope, want dit is hiér waar die koedoes loop.

Uiteindelik gewaar ons ’n troppie koeie en hul kleintjies, asook twee jong bulle.

Maar ek soek steeds daai groot bul en geen skoot word afgetrek nie.

Teen etenstyd, toe ons ’n bietjie asem gaan skep, word daar aan my gesê dat dit nie so maklik gaan wees om die grote bul van my drome in die hande te kry nie.

“Soms stap ’n jagter ’n week of wat agter so ’n bul aan,” vertel Jannie. “Daar is baie koeie, en jy wil met vleis by die huis kom.”

Uiteindelik trek ek toe later die middag my bok plat. Dit was toe ’n koei en ek het ’n wrang smaak in die mond gehad toe ek die sneller sagkens afdruk.

Maar gelukkig was dit ’n droë koei wie se tande al begin uitval het - met geen brood in die oond nie.

Toe voel ek goed, bly oor my mooi koedoe waarmee ek baie biltong en wors kan maak. En bly dat my harde werk op die jagveld vrugte afgewerp het.

Met skemer is ons rustig agterop die bakkie op toer deur die wildkamp.

Terwyl die son net-net oor die horison wou sak, tree ’n pragtige groot bul, wat se horings byna op sy derde draai was, vanuit die doringbome.

En daar staan hy in al sy glorie vir ons en aangluur. Geen bekommernis in die wêreld nie.

Want hy weet ek het klaar geskiet. Dit het ek al agtergekom van wildsbokke. Hulle weet tog te goed wat die mense se bedoelinge is.

Alhoewel my .30-06 voor my op die geweerrak rus, het ek klaar my werk gedoen.

Nou bekyk ek die prag van die natuur en weet dat ek volgende jaar dalk op ’n ander manier weer na hierdie bul sal kyk.

Maar daar is ’n tyd en ’n plek om te jag, en ’n tyd om die prag van die natuurskoon te waardeer.

Een ding weet ek wel. Koedoejag is nie vir sissies nie.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za