ACVV gee hand met straatkinders
2010-05-27
Johan Nel
’n SPLINTERNUWE projek om hawelose straatkinders te versorg, is deel van die groot aantal gemeenskapsprojekte wat vanjaar deur die ACVV van Wellington aangepak word. Dr Elna von Schlicht, voorsitter van ACVV Wellington, sê dat hulle onlangs, ná versoeke vanuit die gemeenskap, by die projek wat ’n skuiling vir straatkinders op die hoek van Hoofstraat en Joubertstraat verskaf, betrokke geraak het. ’n Splinternuwe plan om in die basiese behoeftes van die kinders by die skuiling te voorsien, is deur die ACVV ontwikkel en sal nou deur Marchané Janeke, ’n maatskaplike werker van die ACVV, geïmplimenteer word. Soos met al die ander projekte waarby die ACVV van Wellington tans betrokke is, gaan die organisasie ook in hierdie nuwe kinderprojek op die hulp van die gemeenskap moet steun. Vrywilligers word uitgenooi om te kom help en op die korttermyn het die ACVV dringend middele nodig om die toesighouer se salaris van R2000 per maand te betaal en om middagetes, klere en ander basiese behoeftes van die kinders te voorsien. Kuns-, tuin- en stokperdjietoerusting moet ook aangeskaf word en die gebou waar die kinders versorg word, moet dringend geverf word. Volgens dr Von Schlicht is hierdie nuwe kinderprojek maar een van vele projekte wat vanjaar deur die ACVV Wellington se afdeling maatskaplike dienste aangepak word. Hierdie afdeling lewer ’n wye verskeidenheid van dienste aan die publiek van Wellington soos egskeidings- en huweliksberading, die verwerking van tehuis-aansoeke, tera- pie en nasorgdienste aan middelafhanklikes, materiële noodleniging en terapie aan persone met HIV/Vigs. Maatskaplike dienste is ook verantwoordelik vir die praktykopleiding van die Hugenote Kollege se vierdejaar-studente in maatskaplike werk. Vir die lewering van maatskaplike dienste is Wellington in drie streke verdeel. Die ACVV is vir een streek verantwoordelik, die NG Kerke se afdeling barmhartigheidsdienste vir die tweede streek en die departement kinder- en gesinsorg vir die derde streek. Die ACVV is ook betrokke by die Silwerkruin-tehuis vir bejaardes en by die ACVV se dienssentrum in Bainstraat. Twee belangrike ACVV-projekte wat binne die volgende paar dae in Wellington gestuur gaan word is projek Winterhoop (hulp aan huisloses) en wêreldbeker-beveiliging (kinderweerbaarheid). Vir meer besonderhede oor projek Winterhoop, skakel 021-873-2204.
More
News
|