Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Paarlse aktrise maak naam in televisiereeks

Paarlse aktrise maak naam in televisiereeks
 
2010-05-27

Liezl Dyson

’n PAARLSE aktrise, Sophia Passerini, maak tans naam in ’n televisiereeks op KykNet.

Sophia Passerini, ma van twee kinders, is deesdae bekend as Hannah de Bruyn in die KykNet-reeks Vallei van Sluiers.

In haar plaashuis in Windmeul vertel die sprankelende Sophia van haar rol as Hannah, die verbitterde vrou van ’n ontroue man in die reeks wat verfilm is in die Ceresvallei.

“Hannah kry swaar as die vrou van ’n rondloper-man. Sy word bietjie sleg behandel, maar diep binne haar skuil ’n opregte vrou, eggenoot en ma.”

Hannah se man, Hugo, word gespeel deur Stiaan Bam, wat ook in 7de Laan as Dawid Greeff bekend was vir sy liefde vir die skoner geslag.

Oor Stiaan sê Sophia: “Hy is baie vriendelik en baie professioneel en hy vertolk sy rol met geloofwaardigheid. Hy is glad nie soos sy karakter nie, hy is ’n ware familie-man.”

As Sophia nie op die stel is nie, gee sy klas by die Break-a-leg dramaskool wat sy en haar vennoot Lindy Kriek bestuur.

“Ek het in 2005 Break-a-leg begin. Vandag is daar 40 plus studente by ons dramaskool.”

Break-a-leg, tesame met die Breytenbach-sentrum in Wellington, is juis nou al hard besig om te repeteer vir ’n kabaret wat hulle in Novembermaand daar op die planke sal bring. Die Breytenbach-sentrum borg 20 van die kinders wat aan die kabaret deelneem.

Sophia en Lindy het ook nou ’n “Break-a-little-leg” dramaskool vir voorskoolse kinders begin omdat die aanvraag na lesse vir voorskoolse kinders so groot was.

Sy is ook steeds deel van die teater-opvoering “Soutterte” en sal tydens Hugo Rust Laerskool se tiende vroue-aand op 3 Junie hiermee op die planke wees in die saal van die NG Kerk Wellington-Noord.

As al die toneelspeel en dramaklasse verby is, geniet Sophia dit om tyd saam met haar man, Pierluigi Passerini (’n eierboer), en hul kinders Isabella (8 maande) en Luca (2 jaar) te spandeer.

“Ek is eintlik bietjie van ’n huishen en dis vir my lekker om saam met my gesin te wees.”

Die eerste reeks van Vallei van Sluiers is geskiet kort ná Isabella gebore is.

“Ek was so gelukkig dat die reeks in Ceres en in Kaapstad geskiet is en dat ek elke aand ná werk huis toe kon gaan na my gesin.

Volgens Sophia het Vallei van Sluiers met sy derde episode eerste plek op die kykerslys gehaal.

“Indien dinge goed verloop sal ons binne die volgende ses weke hoor wanneer die tweede reeks geskiet word.”

Sophia, ’n nooi Hugo, is gebore in die Karoo, maar het haar hoërskoolloopbaan by Hoër Meisieskool Paarl voltooi.

“Ek was al van skool af betrokke by drama en ek glo die besluit om Hoër Meisieskool toe te kom, het vir my baie deure oopgemaak.”

Ná skool het sy ’n honneursgraad in drama aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en in verskeie produksies opgetree wat selfs by die KKNK toekennings gekry het. Sophia het ook in die bekende Klipdrif advertensie (Met eish ja) gespeel as die boervrou en is ook bekend vir haar rol in die toneelstuk Faan se Trein.

“Die rol van Hannah is deur Louis Pretorius (medeskrywer) vir my aangebied. Dit is lekker om te weet dat hy soveel vertroue in my gehad het.”

In die toekoms sal sy graag die dramaskool wil uitbrei en vir haar studente ’n voorsmakie van die bedryf gee sodat hulle presies weet waarvoor hulle hulself inlaat wanneer hulle in dié rigting wil studeer.

“Ek is eintlik gelukkig met my lewe soos dit is, maar dit sal lekker wees om so een keer ’n jaar iets groots aan te pak. En as daar nog ure in die dag was, sou ek graag ’n loopbaan in sang wou aandurf.”

Sy meen alles wat sy suksesvol aangepak het, is te danke aan die steun van haar man en die mense om haar wat haar dit gun.

Vir die kykers van Vallei van Sluiers, sê Sophia: “Hannah hou baie verrassings vir almal in, in die tweede reeks - en dis al wat ek mag verklap.”

Die uitsaaitye van Vallei van Sluiers is Dinsdae om 20:00 en herhalings is te sien Woensdae om 15:00, Donderdae om 10:00 en Vrydae om 00:30.

Vir navrae oor die dramaskool, kontak haar by 072-954-7214.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za