Wamakers se kookkuns-sentrum amptelik geopen
2010-06-04
Johan Nel
DIE Wamakersvallei-opleidingsentrum op Wellington se nuwe kooksentrum is onlangs deur dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van sosiale ontwikkeling, amptelik geopen.
Hy het die kooksentrum se kook- en huisbestuurkursus vir huishulpe geloof as ’n uitstekende voorbeeld van hoe Suid-Afrikaners se lewensomstandighede op positiewe wyse verbeter kan word. Volgens dr Meyer is dit deur inisiatiewe soos dié wat broodnodige vaardigheidsopleiding na alle Suid-Afrikaners gebring word. Hy sê dis dringend noodsaaklik dat Suid-Afrikaners leerders moet raak, mense wat voortdurend daarna streef om hul eie omstandighede te verbeter. Die sentrum het die afgelope twaalf jaar reeds meer as 5 000 mense opgelei en hulle gehelp om nie alleen suksesvol aansoek te doen om betrekkings nie, maar ook om in hierdie betrekkings uit te blink. Altesaam 11 studente het die kooksentrum se eerste kursus suksesvol voltooi en het tydens die opening hul sertifikate van dr Meyer ontvang. Monica Adams is as die top-student onder die eerste groep kookkunsstudente aangewys. Die klasse in kook- en huisbestuur by die kooksentrum word een dag per week oor ’n tydperk van agt weke by die sentrum in Breedt- straat aangebied word. Die kursus bestaan uit twee kook- en baksessies en een huisbestuursessie per dag. Studente word onder meer in die volgende vaardighede onderrig: bekostigbare voedselvoorbereiding, konfyt kook, ontbening en vleissnitte, vriesmetodes, tafeldek, maaltydbeplanning en algemene huishouding. Die koste van die kursus in kookkuns beloop R1 500 en sluit ’n handboek en alle benodigdhede in. Meer besonderhede kan verkry word deur 021-873-5942 gedurende kantoorure te skakel.
More
News
|