Wyk 25 se inwoners ongelukkig
2010-06-04
Sieb Sieberhagen
BELOFTES van werkverskaffing en wyksprojekte wat maar net nie wil vorder nie, maak inwoners van Wyk 25 (die Klein Nederburg-gebied in Paarl-Oos) warm om die kraag. Daar word glo baie beloftes deur raadslid Mannie le Hoe (ANC) gemaak, maar niks gebeur nie, sê een van die gemeenskapswerkers, Stienie de Kock. “Ons wou graag tydens die IDP-vergadering van 20 Mei die huidige boekjaar se projekte met Le Hoe bespreek, maar hy het nie eens opgedaag nie. Hy is gereeld met vakansie word aan ons vertel,” sê sy. Le Hoe sê dat 2009 se wyks- projekte afgehandel is. “Dit was net die sopkombuis se elektrisiteit en wateraansluiting waarvoor ek ’n brief moes geteken het. Omdat sekere inwoners nie tevrede was met die staanplek van die vraghouer nie, het dit gelei tot vertraging.” Oor 20 Mei se vergadering antwoord hy so: “Die vergadering van 20 Mei was nie met die gemeenskap vasgemaak nie, want ek sou eers ’n vergadering met die bestuur van die ANC-tak gehou het. Ek was by die plek van die vergadering, maar dit het ook nie plaasgevind nie. “Ek weet nie wat inwoners met my wil bespreek nie. Ek sal daarvan hou dat ek duidelikheid daaroor kry. “Daar word vergaderings beplan en gehou, en sommige inwoners daag nie op nie. Nuwe datums vir vergaderings sal ek vasmaak, nadat ek met die wykskomitee vergader het,” sê hy. En oor klagtes van die inwoners dat Le Hoe doelbewus die projekte laat sloer om dan die geld in die nuwe jaar vir ander projekte aan te wend, antwoord Wyk 25 se raadslid so. “Geld van die ou boekjaar mag nie oorgedra word na die nuwe boekjaar nie. Ek is verseker dat ons as Munisipaliteit dit nie sal toelaat nie,” sê hy. En oor ’n vraag dat inwoners nie weet waar hy bly nie antwoord hy kortweg, “Ek woon in die Drakenstein-area.”
More
News
|