Bailey verwesenlik ideaal by ATKV
2010-06-10
Johan Nel
HERMAN Bailey, bekende inwoner van Wellington, is verlede naweek tydens die algemene jaarvergadering van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) tot direkteur van die organisasie se direksie verkies. Vir Bailey, wat reeds meer as twintig jaar lid van die organisasie is, is die verkiesing tot direkteur die verwesenliking van ’n lank gekoesterde ideaal. Hy is reeds nege jaar gelede tot die direksie van die ATKV gekoöpteer, maar het nog altyd daarna gestreef om tot volwaardige direksielid verkies te word. “Ek het sedert 2006 elke jaar as direksielid gestaan, maar met elke verkiesing met ’n paar stemme uitgeval. Vanjaar het die stemmery volledig in my guns geswaai. Vir my beteken dit die verwesenliking van ’n baie lank gekoesterde ideaal. Meer nog, dit wys ook hoe die ATKV oor die jare gegroei en vernuwe het, want ek is die heel eerste volwaardige direkteur van kleur in die ATKV se geskiedenis van 80 jaar,” het Bailey ná die naweek in sy woning in Wellington gesê. “Die organisasie het sonder twyfel nou hul eie Rubicon oorgesteek. Nagenoeg 10% van die afgevaardigdes op die jaarvergadering het uit die bruin gemeenskap gekom, wat beteken dat meer as 50% van die ander afgevaardigdes vir my moes gestem het om aan my ’n volstrekte meerderheid van minstens 60% te besorg.” Bailey se nuwe portefeulje binne die ATKV is dié van maatskaplike ontwikkeling. Die direkteurskap gaan hom ook help om nog nouer op grondvlak by takke as takvoog betrokke te raak. Die volledige integrasie van takke is een van die take waaraan hy hom voortaan wil wy. “In Wellington bestaan die ATKV-tak uit vyf onder-afdelings: daar is ’n jeugtak wat bekend staan as die BR Tops, daar is die gesinstak, die damestak (die Waterblommetjies), die Wellington Leeskring en ook nog die Wellington Klopse.” Baie van die takke kan, as gevolg van hul samestelling nie volledig integreer nie, maar daar is wel talle takke wat in die toekoms onder leiding van takvoogde baie meer geïntegreerd kan begin funksioneer. Die ATKV beskik reeds landwyd oor 271 takke en 65 000 lede. Hierdie ledetal dui eintlik op die aantal gesinne wat lidmaatskap het en die syfer behoort eintlik met vier vermenigvuldig te word om die werklike ledetal te bepaal. Bailey is in 1950 op Wellington gebore. Hy het by die Bergrivier Hoërskool gematrikuleer en daarna ’n BA in kommunikasiekunde en kriminologie verwerf. Hy het later ook ’n nagraadse kursus in ontwikkelingskunde aan die Universiteit van Georgia in Atlanta in die VSA verwerf. Hy was lank betrokke by die Landelike Stigting en het vanaf 1977 op die bestuurskomitee van die Wellingtonse stadsraad gedien. Hy was vanaf 1995 tot 2000 burgemeester van Wellington en dien steeds op talle direksies waaronder dié van die KWV, Bybelmedia en Lux Verbi. Hy is ook tans president van Biblionef, ’n Nederlandse organisasie wat help met die uitbou van plaaslike biblioteke. Herman is tans op Wellington betrokke by ’n projek om die orale geskiedenis van die voorheen benadeelde groepe in Wellington saam te stel, veral van diegene wat deur die apartheidsjare in Wellington gedwing is om te verskuif. Hierdie projek staan bekend as “Om-die-Tafel Stories”en vind in samewerking met die Vriende van Wellington Museum en Ouma Granny’s huismuseum plaas.
More
News
|