Eerlikheid beloon
2010-06-10
Lise Beyers
’n JONG man se eerlikheid is onlangs beloon. Leeman Martin (16), in graad tien by Klein Nederburg Sekondêr, was onderweg na ’n rugby-oefening by sy skool se velde toe hy in Fieldstraat op ’n mansbeursie afgekom het wat op die sypaadjie gelê het. “Ek dog dis ’n boksie en wou dit skop, maar toe sien ek dat dit ’n beursie is. Binne-in was daar geld en ’n klompie kaarte. “Ek het na die een kaart gekyk en gesien dat dit ’n identiteitskaart van Metro-ambulansdienste is.” Leeman het geweet dat daar ’n ambulansman in Fieldstraat bly en het ná sy rugby-oefening hom opgespoor. Intussen het ambulansman Garth Botha die hele dorp vol gesoek na sy beursie. “Toe ek tuis kom nadat ek verskeie draaie moes ry, was my beursie skoonveld. Alhoewel daar net R60 kontant in was, was al my bankkaarte en identiteitsdokumente daarin.” Maar later die dag kon Botha ’n sug van verligting slaak, toe Martin aan sy deur klop met sy beursie in sy hand. “Ek kon dit nie glo nie. Teen daardie tyd het ek gedink dat ek nooit weer die beursie sal sien nie. En boonop was al die geld nog daarin.” As beloning het Botha ’n handvol note in Martin se hand gestop. Vir Martin was die grootste beloning egter dat hy iets goeds vir iemand kon doen. Hy draf toevallig Saterdag saam met die Springbokke en Franse rugbyspanne op Nuweland uit as een van ’n groep leerders wat die landsvlae sal dra.
More
News
|