Wellington se senter-sensasie blink uit
2010-06-10
Lise Beyers
TANS gons dit in die rugbywêreld oor die blitsige senter-sensasie van Wellington. Juan de Jongh, ’n oud-leerder van Hugenote Hoër, het Saterdag sy tuisdorp trots gemaak toe hy sy debuut gemaak het in die Springbok-trui. Boonop druk hy toe sommer ’n prag-drie tydens die kragmeting met Wallis. En dit is duidelik dat hierdie Hugenoter van net 22 jaar, nog ’n lang en blink verhouding gaan hê met die Springbok-trui. De Jongh het reeds uitgeblink in sy skooljare, toe hy in sy matriekjaar gekies is vir Boland se o.19 Cravenweekspan. As student in sportbestuur aan die Universiteit van Stellenbosch het hy uitgedraf in die WP trui en kort op die hakke hiervan, is hy opgeraap vir die Springbok-sewesspan. En dan het hy ook ’n ongelooflike Super 14 seisoen agter die blad. Vandag staan De Jongh bekend vir sy uitmuntende spoed en slim sy-stappe op die rugbyveld, wat dikwels tot ’n drie lei. En niemand is trotser op hom as sy ouers, Johan en Magriet de Jongh nie. Johan is ’n kok by Drakenstein gevangenis, en Magriet is ’n eiendomsagent in Wellington. Hulle het nog drie kinders - die tweeling Mellissa en Melonie (24) en Rohann (27). Maar al straal hierdie familie van trots, bly hulle beskeie oor hul seun se sukses. “Juan het altyd baie hard gewerk en hy bly ook baie nederig. Ons is baie trots op hom. Maar ons voete is steeds op die grond,” vertel hulle. “Wat wel moeilik vir ons is, is die feit dat ons hom so min sien.” Maar hulle kan nie wag vir Saterdag nie, wanneer hulle self in die pawiljoen sal toekyk hoe hul seun in die Springbok-trui op Nuweland uitdraf. De Jongh het Maandagoggend skaars sy voete op tuisbodem neergesit ná ’n vlug vanuit Engeland, of hy was weer op die oefenveld ter voorbereiding vir Saterdag se kragmeting teen Frankryk.
More
News
|