Skool neem afskeid van hoof
2010-06-17
Christine Siebrits
TYDENS ’n onlangse afskeidspartytjie het die personeel en leerders van Wagenmakersvallei op luisterryke wyse afskeid geneem van hul skoolhoof van baie jare, Leslie Arendse. Onder die voorwendsel dat daar nie genoeg brood was vir die leerders se toebroodjies nie, het die personeel Arendse dorp toe gestuur. Terwyl hy weg was, het daar groot opgewondenheid geheers en alles is in gereedheid gebring vir die verrassingspartytjie wat sou volg. Arendse was vir 30 jaar verbonde aan die skool, waarvan ’n hele klompie jaar as skoolhoof. Op 19 Junie vanjaar word hy 65 jaar oud en tree dus nou uit die onderwys. Arendse was ’n kranige Bolandse skrumskakel in sy jonger jare en was ’n groot voorstaander van sport en ontwikkeling van die jeug in sy skool. ’n Sportveld word tans by die skool ontwikkel. Tydens sy termyn as skoolhoof het die skool baie hoogtepunte beleef. Hulle het ’n wenkoor in die waterweekkompetisie opgelewer, asook Boland rugbyspelers, -atlete en -netbalspelers.
More
News
|