Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Pa-en-dogterspan ken van veilings

Pa-en-dogterspan ken van veilings
 
2010-06-17

Sieb Sieberhagen

WIE sou dit glo dat Alistair Brown, wat 14 jaar gelede met Boland Veilings begin het, nou kragte saamgesnoer het met sy dogter, Julie Grobler.

Julie, ’n oudskolier van Hoër Meisieskool en nou met ’n bemarkingsgraad agter haar naam, was destyds as eerstejaarstudent aan haar pa se sy toe hy die eerste keer sy veilingsklok in Klapmuts gelui het.

Vandag is dit ’n gevestigde besigheid met hul basis op die kruising van die R44 en R45 roetes tussen Wellington en Paarl. Hier word daar nou elke Vrydagoggend veilings gehou.

Al die ander veilings word ook geadverteer en word by spesifieke persele of huise aangebied. Van hulle veilings vind regoor die Wes-Kaap plaas.

Julie, met jare se ondervinding in bemarking by internasionale maatskappye, het onlangs vanaf Gauteng hierheen verhuis, haar afslaerseksamen met lof geslaag en is nou aan haar pa se sy.

Terwyl haar man nog vir twee jaar oorsee werk, gaan sy nou ál haar aandag aan haar pa se besigheid gee.

“Dit is nogal ’n lekker uitdaging en ek het sommer dadelik ingespring om Boland Auctions te moderniseer. Ons het selfs nou ons eie webwerf,” sê sy.

“En nou is oupa en ouma ook lekker naby hulle enigste kleinkind, die tweejarige Jenna. Oupie en ouma Prudence bederf haar sommer lekker,” skerts Julie.

“Wat lekker van die pa- en dogterspan is, is dat dinge nie opgekrop word nie,” beaam altwee.

“As dinge pla of ons trap dalk op mekaar se tone, word daar dadelik daaroor gesels. Ons kry sommer tyd wanneer ons saam ontspan om oor ons beplanning te gesels,” vertel die twee wat soms saam fietsry, gimnasium toe gaan en selfs die hardloopskoene aantrek.

Alistair beplan om volgende jaar sy 25ste Argus fietstoer te ry en Julie gaan haar tiende aanpak.

Noudat Julie self ’n voorslag afslaer word met die toeslaan van die bod, verskil hulle manier van afslaer wees, merkbaar. Julie doen dit meer op een toon, terwyl Alistair, ook ’n geswore waardeerder, se aanbieding duidelik meer donker en ligter tone het.

Wanneer daar ’n veiling is, hanteer Julie die eerste gedeelte, waar kleiner huisraad en losgoed opgeveil word, en daarna kry Alistair sy beurt met die groter goed.

Soos wat Alistair destyds baie by Austin Kitching oor afslaery geleer het, leer Julie baie by haar pa of “Catman” soos sy hom partykeer noem.

“Hy kom nog uit die ou skool. Hy sal baie eerder met iemand persoonlik gaan gesels of oor die telefoon praat as om ’n epos te stuur.

“Daarom is ek mal oor my pa en die manier hoe hy sy besigheid doen. Daardie besigheidsbeginsel dat die mens nog die belangrikste is, is iets wat my altyd sal bybly,” vertel Julie.

“Ons is daartoe verbind om ons kliënte met ’n professionele en kundige diens by te staan. Ons kies saam met die kliënte die beste plek om die veiling te hou wat vir baie mense tyd en geld bespaar.

“Ons spesialiseer in alle huisinhoud by die kliënt se huis wat verhoed dat huisraad beskadig word,” vertel die twee.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za