Opleiding bied geleenthede
2010-06-24
Johan Nel
BYKANS 50 studente het pas die Wamakersvallei-opleidingsentrum op Wellington se jongste kursusse in tuisversorging en kleutersorg suksesvol voltooi. Natasha Adams is aangewys as die beste student in tuisversorging en Othelia Nquaxingana was die beste student in kleutersorg. Dit was die 45ste sertifikaatplegtigheid sedert die sentrum 12 jaar gelede met kursusse begin het. Altesaam 32 studente het die jongste kursus in tuisversorging gevolg en die res die kursus in huisbestuur en kleutersorg, hoofsaaklik in Engels. Patricia Khumalu, ’n bekende motiveringspreker van Khayelitsha, was die spreker by die geleentheid. Sy het gesê die sertifikate wat aan die studente oorhandig word wat hul kursusse suksesvol voltooi het, ’n tasbare bewys is van hul wil om vorentoe te beur en om hul lewensomstandighede dramaties te verbeter. Die volgende reeks kursusse, wat op 15 Julie begin, sal hoofsaaklik in Afrikaans aangebied word. Die sentrum sal dan ook, benewens kursusse in tuisversorging en kleutersorg, voortgaan met die nuwe kursus in kookkuns. Vir meer inligting oor die kursusse, skakel vanaf 12 Julie 021-873 -5942.
More
News
|