Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Botterberg se mense onthou

Botterberg se mense onthou
 
2010-06-24

Marguerite Lombard

DIT is swaar as al wat van jou kinderjare oorgebly het ’n oop stuk veld is, ’n spookboom en voetpaadjies deur die gras. Dit is Botterberg wat aan die onderpunt van Pentzstraat in Wellington geleë was, se storie.

Botterberg se huise is volgens die apartheid-wetgewing gesloop en die inwoners is in 1967 na onder andere Hillcrest verskuif.

Botterberg se naam is afgelei van die botterblomme wat in die lente teen ’n heuwel geblom het. Die buurt se huise is waarskynlik in die 1930’s gebou, en het aan die Wellington Independent Friendly Society behoort, en in die 1960s het 21 gesinne daar gewoon.

Verlede week het die Wellington Museum se Om-die-tafelstories-projek ’n werksessie met Botterberg se mense gevoer, en sal binnekort soortgelyke sessies met die gemeenskappe van Hopestraat, Laer Pentzstraat en Fonteinstraat doen.

Die storievertellers is nou almal in hulle sewentigs, die laastes wat nog iets van Botterberg se mense kan onthou. Van oom Maans wat met ’n fiets uit die oorlog gekom het, van bottels optel om drie oulappe bymekaar te maak om Woensdae se matinée by te woon, en van oom Hans en antie Sarie Tafelstert se skouspelagtige huwelikstwiste.

Van Vrydagaande se meubels uitdra om Squares te dans. Van die bands wat uit die Kaap gekom het om op Botterberg musiek te maak - en het die mense dan nie gedans nie.

Vir die klein gemeenskap was Andries Williams se houtbesigheid ’n kernpunt. Hy het hout gesaag vir die mense se stowe, en ook werk verskaf.

Joey Williams was sy pa se oudste en een van nege kinders: “My plig was altyd om pa se donkies – Koffie en Suiker – in die aand in te bring. Ai nou speel jy so lekker jy vergeet heeltemal van die donkies. Die volgende oggend hardloop jy kaalvoet oor die nat gras om hulle weer te gaan soek en inspan.”

Om nie te praat van die pak slae omdat pa se werk agter is.

Die laaste dag wat almal nog saam op Botterberg kon wees, was ’n hartseerstorie. Sheila Abrahams onthou nog, dit was Desember 1967” “Ons het so gehuil, niemand wou trek nie.”

Op die 13de teen 3uur moes almal uit wees, van die mans wat gewerk het, het daardie aand in die donker gaan soek na hulle nuwe huise. “Bly ek hier, bly ek hier, het hulle geroep, van die een huis na die ander,” onthou sy.

Volgens Herman Bailey het die Wellington munisipaliteit in February 1958 ’n brief ontvang van die destydse department van Kleurlingsake, om te vra dat die Raad ’n besluit moet neem oor waar die dorp se bruin groepsgebied gaan wees. So is ’n kaart geteken om die grense tussen wit en swart op die dorp te bepaal. Botterberg het toe in die buffersone tussen wit en bruin geval. In die 1960s is al die huise tussen Terrace-, Joubert- en Pentzstraat en Botterberg gesloop.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za