Seun vereer sy pa: Ross Sporttrust gestig
2005-09-22
’n SEUN se bewondering en respek vir sy pa - dit is wat agter die stigting van die Ross Sporttrust sit.
Die seun is Patrick Ross, landdros en sportman, die pa, Solomon Ross, eertydse blits van die atletiekbaan.
“Ek kom uit ’n huis waar ons arm groot geword het, maar wat ek die beste onthou is dat my pa sewe dae per week sport gedoen het,” vertel Patrick.
“Ons het streng groot geword, met baie dissipline, en ek glo dit is wat vandag ontbreek in die samelewing.”
Patrick is in Newton gebore, maar in sy sub A-jaar het die gesin Paarl toe getrek, waar hy sy skooljare by Paulus Joubert Primêr en Sekondêr deurgebring het.
“Ons het baie Christelik groot geword. "Ek het van jongsaf Sondagskool gegee en was ook ’n diaken in die VGK Kerk.”
In sy laaste jaar op skool woon hy ’n Veld & Vlei leierskapskool by, en hier ontwikkel hy ’n visie vir die toekoms.
In 1982 gooi hy duim Johannesburg toe om te gaan werk soek. Hy begin werk as klerk van die hof en begin deur die pos studeer.
Kort voor lank is hy ’n onderhoudsbeampte en dan kom hy terug Kaap toe as aanklaer in Wynberg.
Op 1 April 1993 word hy vas aangestel as landdros, in 2000 word hy kantoorhoof op Wellington en die afgelope twee jaar neem hy waar as landdros in die Paarlse streekhof.
Patrick het veral groot hoogtes bereik in karate en hy glo dat die dissipline wat hy in die huis geleer het, hom goed te staan gekom het in die uiters gedissiplineerde sport.
Hy is getroud met Esther Benjamin en hulle het twee seuns, Dale en Marcello.
Sy gesin is vir hom baie belangrik en hy probeer dieselfde waardes nastreef as sy ouers.
“Dit is nie rykdom wat tel nie, maar die klein dingetjies wat ons as kinders dikwels totaal miskyk. Die omgee vir mekaar.
“Ek onthou nog hoe my ma altyd reggestaan het met my pa se oefenklere as hy van die werk af kom en later weer met ’n handdoek as hy klaar gehardloop het.
“My ma sou alles wat sy kon vir ander mense gegee het, al het sy nie self gehad nie.”
Sy pa, Solomon, vertel dat sy eerste belangstelling fietsry was. “Ons het in Newton gebly daardie jare en die manne het almal fietse gehad.
"Ons het werk toe en terug gery en dan mekaar sommer uitgedaag vir ’n wedren daarna.”
Later het hy ernstig begin hardloop, veral die 400m, 800m en 1500m.
In 1983 is hy Porto Rico toe om aan die meesterstoernooi deel te neem, maar toe word Suid-Afrika deelname geweier.
Uiteindelik het Solomon en sy spanmaats onder ’n ander vlag deelgeneem en goed gevaar.
Hy hardloop die 400m-uitdun in ’n SA-rekordtyd van 56,3 sekondes. Hiervoor ontvang hy ook later ’n Springbokbaadjie.
’n Hoogtepunt vir pa en seun is wanneer hulle in 1997 saam opgeneem word in die SA atletiekspan vir die Wêreld Meesterstoernooi in Durban.
Solomon moes egter onttrek, as gevolg van ’n rugbesering wat hy by die werk opgedoen het.
Hy het vir Huguenot Harriers en later vir die Paarl Atletiekklub gehardloop en dit was ’n groot teleurstelling toe hy nie kon voortgaan nie.
“My hart is nog steeds vir atletiek.”
’n Merkwaardige man wat sy seun genoop het om ’n trust te skep en te sê: “Die inspirasie hiervoor is my ouers.”
Ross Sporttrust gestig
HET u al hande in die hare gesit en wonder waar om geld te kry vir u kind se sport- of kultuurtoer?
Hoe verduidelik ’n mens vir jou kind dat, sy talent ten spyte, hy nie aan ’n nasionale of internasionale kompetisie sal kan deelneem nie?
Dit is hierdie vrae wat Patrick Ross nou laat besluit het om iets te doen aan die saak.
As oud-povinsiale rugbyspeler, karate guru en sportmentor, is hy deeglik bewus van die talent onder die jeug wat wag om ontwikkel te word.
As landdros word hy daagliks gekonfronteer met die gevolge van jeug sonder ’n visie en hoop.
Ross wil nou iets daadwerkliks doen om hierdie situasie aan te spreek.
“Ons kan mos nie wag dat hulle die pad byster raak en dan wil ons hulle kruisig nie!”
Ross meen ’n jeugontwikkelingsfonds kan ’n groot bydrae maak. “Ons kan dan beter beding met maatskappye vir ondersteuning.”
Hy het saamgespan met sportkonsultant Conrad Lesch en prokureur Ivan de Villiers en op Woensdag 28 September loods hulle die Ross Sporttrust, vernoem na Patrick se pa, Solomon Ross.
Dit word by Gimnasium Hoërskool aangebied en kaartjies word per tafel van tien verkoop.
Bespreek by Ross (872-3127), Lesch by 072-680-1415 of De Villiers by 873-1171.
More
News
|