Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Politici pragtig op tagtig

Politici pragtig op tagtig
 
2005-09-22


AG, maar jy lyk goed, ek is so bly om jou te sien. Só het oud-parlementslid Liz (Nanna) Abrahams en munisipale raadslid Bokkie Claasen mekaar vandeesweek gegroet.

Die twee politieke strydrosse, albei gebore en getoë Paarliete, het Maandag saam tagtig geword, en was tot hierdie week onbewus daarvan dat hulle ’n verjaardag deel.

Nanna Abrahams, strydros van die ANC en SAKP, en “ant” Bokkie Claasen, “uitverkoop” deur die NNP en nou teensinnige lid van die ANC, was tog te bly om mekaar te sien.

“Om te dink ons het saam skool gegaan,” vertel Bokkie terwyl sy haarself regskuif in Nanna se sitkamer.

Die twee het hul laerskooljare op dieselfde banke by die Bethany Skool deurgebring.

Hierna is Bokkie na die Athlone-skool toe tot standerd agt (graad 10), terwyl Nanna moes terug huis toe om haar pa te help versorg.
Liz Abrahams was ’n nooi Joseph, een van ’n kroos van vier broers en vier susters.

Sy het op 14 as fabriekswerker uitgespring om te help sorg vir haar gesin, en het later sy aan sy met bekende vryheidstryders soos Ray Alexander Simons en Oscar Mpetha gewerk om die Food and Canning Worker’s Union (Fawu) en Cosatu op te bou. In 1956 word sy Fawu se sekretaris.

In 1963 word sy vir vyf jaar ingeperk ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme.

Daarna het sy haar veral toegespits op die organisering van vroue.
Van 1994 tot 2000 dien Nanna in die Parlement, waarna sy aftree.

In 2002 ontvang sy die Orde van die Baobab (brons) vir haar bydrae tot die land.

Sy was getroud met Abraham Abrahamse, wat haar na 10 jaar ontval het. Die egpaar het nie kinders gehad nie.

Bokkie (Grace) Claasen is in Eilandstraat gebore en vroeg-vroeg het sy haar ma, Beatrice Claasen, gehelp met gemeenskapswerk.

Beatrice was een van die stigterslede van die plaaslike ANC-tak, maar Bokkie het haar politieke skrede in ’n ander rigting gestuur.

Sy het uiteindelik ds Alan Hendricks na die Arbeidersparty gevolg, ’n stap wat baie mense haar verkwalik het.

In die laat sestigerjare het sy ook amper drie jaar in die tronk deurgebring nadat daar ’n vergissing met haar identiteit was, en sy vir die Paarlse aktivis Rocky Mafekeng aangesien is.

Bokkie het deur die jare sinoniem geword met die plaaslike politieke toneel.

Sy het haar loopbaan in plaaslike regering in die destydse bestuurskomitee begin.Van die eerste demokratiese verkiesing af het sy op die stadsraad gedien: vir die NNP, die NNP/ANC koalisie en nou vir die ANC, ná die oorloop van Marthinus van Schalkwyk.

Hierdie “uitverkoping” deur haar eens geliefde leier sal sy hom nie maklik vergewe nie: “Hy het ons op ’n stukkende brug gelaat.”

Bokkie was getroud met Jo Johnson, wat reeds byna veertig jaar oorlede is.

Haar pa was nie gediend met die huwelik nie, want sy was nog net 18 jaar oud. Hy het dit laat ontbind en Bokkie het haar nooiensvan behou, hoewel sy by haar man gebly het.

Hulle het ses dogters en ses seuns gehad, waarvan elf nog lewe.

Ant Bokkie spog ook graag met haar 47 kleinkinders, 19 agterkleinkinders en sewe agteragterkleinkinders.

Die twee statige dames geniet nog goeie gesondheid.

“Dit help tog nie om te kla nie,” lag Nanna. “My ma het altyd gesê pyn kom nie alleen nie...”

“Hulle bring hul maters saam!” voltooi ant Bokkie vir haar.

Nanna het wel probleme met haar rug, maar hou nog haar hand op haar huis en tuin.

Sy put ook groot vreugde uit studente, skoolkinders en ander mense wat met haar kom gesels oor haar wedervaringe deur die jare.

En ant Bokkie? “Ek makeer niks - nie suiker of hoë bloeddruk nie. En ek drink ses lepels suiker in my koffie!”

Sy wil haar nie uitlaat oor haar toekomsplanne nie, maar daar is ’n ondeunde glinstering in haar oë as sy toegee: “Daar is baie druk op my om weer te staan, die mense wil my nie laat gaan nie.”

* Two political stalwarts of Paarl both celebrated their 80th birthday on Monday.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za