Fanie Bitterkos se snoek-koppe
2010-07-08
Marguerite Lombard
SNOEK-KOPPE was koningskos vir die kinders van Hopestraat op Wellington. Vrydagaande het die kinders van Hopestraat lekker geëet, want dan het die grootmense geld gehad, onthou Winnifred Joseph wat in die 1950s in dié straat grootgeword het. “Ons kos op ’n Vrydagaand was snoek-koppe. Fanie Bitterkos het ’n perdekar gehad, dan bring hy die vis. “Hy het die pragtigste perde gehad. Hulle het so gespring en gepronk as die kinders uithardloop en roep – Hier’s ons vis! Hier’s ons vis! “Vis en patat het ons geëet, dit was die lekkerste kos en almal was welkom in ons huis.” Winnifred Joseph vertel hulle het die vis gebak, maar gesmoorde vis met ’n bietjie uie op brood was net so lekker. Om nie te praat van daardie jare se lekker dik rooi polonie en die tuisgemaakte brode met die harde korsies nie. Maria Abrahams of tant Raaia soos almal haar noem, onthou die bakkery skuins voor die hotel. “Die bakkery het altyd warm water daar in ’n sloot laat uitloop, en dan het ons soggens voor skool gaan sit met ons voete in die lou-warm water. Ons het mos nie soos vandag skoolskoene gedra nie. “Ons het net een keer ’n jaar nuwe klere en skoene gekry – met Kersfees, en dit het ons die hele jaar gedra. Die nuwe klere was net vir kerk en Sondagskool. “Daardie jare kon jy ook met ’n tiekie ’n brood koop, en dan gaan ons na Skolni se winkel op die hoek en koop ’n oulap se jam vir die brood. ’n Oulap se jam het amper ’n twee pond appelkoosblik volgemaak.” Die meeste kinders se ouers het in Wellington se inmaak- en konfytfabrieke gewerk - fabrieke soos Eagle, Patatstoor, Enterprise, Hugo en Oakley; of by die skoenfabrieke soos Jordan, Lang, Rossiter en Good Hope. Hopestraat is vandag ’n kort straatjie tussen Hoof- en Burgerstraat in Wellington, in die omgewing van die munisipale geboue en die Breytenbach-sentrum. In 1953 het Hans en Kitty Breytenbach ’n losieshuis gehad op die hoek van Burger- en Malherbestraat. Hul seun Breyten – die bekende skrywer en digter - was 13 jaar oud toe die gesin hulle op Wellington gevestig het. Die mense van Hopestraat het meestal in tweevertrek-huisies gebly. Almal het vir almal geken in hierdie gemengde woonbuurt van wit en bruin, Jood en Moslem en Christen. Winston Smythe onthou hoe Jan Neethling, die posman, Sondagoggende by sy ouers kom koffie drink het. Die name van bure word Oud-Testamenties opgeroep: Cyster, Carolissen, Smythe, September, Bailey, Slamet, Jacobs en Dreyden. Goodman. Hendrikse. Tant Moekie Prins, en tant Kaatjie. Tietie Lala en Albert Riem en tant Suzie Bloeddruk. Die groep mense om die tafel is reeds ou-mas en oupas, maar hulle herinneringe van hulle kinderjare is nog vars. Van die “Jungle” waar hulle wegkruipertjie gespeel het, van blikkie-aspaai en bok-bok-staan-styf speel, en krieket speel voor die “Meid” se kantien. Van appelkose en pruime op ’n Sondagmiddag steel terwyl die grootmense rus. Van koffie drink by die Breytenbachs en van Breyten wat so boeke gelees het terwyl die kinders krieket speel. Sheila Rooks onthou hoe hulle voor skool suurdeeg naby Hexberg moes gaan haal, en vir oumas snuif in Kantienstraat moes gaan koop. En koeimis optel vir die vloere, en die kleirand om die kombuis se koolstofie. Vrydagoggende is die vuurherd uitgeklei, en skoon koerantpapier uitgeknip vir die kombuis se rakke. ’n Nuwe patroon van diamante of dansende kinders is uitgeknip. Die mense van Hopestraat was nie geleerde mense nie, maar musikaal wél. Maria Abrahams onthou dat haar ma klavierlesse gegee het, en in hulle familie het almal ’n musiek-instrument of twee gespeel. “Ma is dood toe ek 12 jaar oud was, en pa was baie streng. Ons kon nie in die aand buite wees nie. “Dan het ons so gesit, die een met die kitaar, die ander met ’n harp, viool, trompet of fluit. Die instrumente is so in die rondte geskuif sodat almal ’n beurt kry om te speel. “Partykeer het ek die kitaar gevat en op en af in die straat geloop. Dan het die hele Hopestraat se kinders agterna geloop en sing en dans,” onthou sy. Die mense van Hopestraat was die eerste om uit Wellington se middedorp te skuif en is na strate soos Wes-, Jardine-, Versailles-, Hospitaal-, Pine- en Pentzstraat, en later na Langham Park of Ghost Town. Hierdie stories maak deel van talle herinneringe van Hopestraat wat tydens die Wellington Museum se Om-die-tafelstories-projek opgeskryf word. Die werksessie met Hopestraat se mense is ’n poging om die geskiedenis van gemeenskappe wat deur die Groepsgebiedewet tydens die Apartheid-era uitmekaar is, vas te lê. Soortgelyke sessies sal nog met die gemeenskappe van Laer Pentzstraat en Fonteinstraat gedoen word. Onderhoude met mense van Wes- en Terracestraat en Botterberg is reeds voltooi.
More
News
|