Sagte baard vat die manne aan
2010-07-15
Lise Beyers
’n VYFTIENJARIGE Gimmie het onlangs stof in die oë van gesoute wedvlugduifboere geskop, toe hy as algehele wenner van die Boland Duiwe-unie aangewys is. Dit beteken dat ná verskeie vliegkompetisies, het Ruan Louw van Noorder-Paarl se duif die algehele vinnigste tyd aangeteken tussen 1223 duiwe. En dit vir ’n knaap wat skaars drie jaar lank duiwe vlieg. “Daar is duiweboere wat reeds 30 jaar lank meeding om dié toekenning te wen en dit nog nie kon regkry nie,” spog Ruan met ’n groot glimlag. Maar eintlik is hy baie beskeie en begin net vlot praat as dit by sy duiwe kom. Hy vertel dat toe hy by Laerskool Slot van die Paarl op skool was, het ’n onderwyser hom bekend gestel aan wedvlugduiwe. En net daar het die gogga (oftewel duif) eensklaps gebyt. “Hulle het my gefassineer. Dit bly vir my byna toweragtig hoe hulle myle en myle van hul tuiste gelaat word en hul pad weer vind. “Ek was vasbeslote om by hierdie sport betrokke te raak en het al hoe meer hieroor uitgevind.” So het Ruan by die Paarl-Vallei Posduifvereniging beland en die hardebaarde was tog te bly dat jong bloed in hul sport belangstel. Hulle was uiters gretig om hom touwys te maak oor die sport en bekende plaaslike duifman Dolf Botha het aan Ruan sy eerste duif gegee. Vandag het hierdie getal tot 56 gegroei. So lees Ruan van Suid-Afrika se bekendste wedvlugduifvlieër, Mark Kitchenbrand, wat al R800 000 betaal het vir een duif. Ruan se ouers verras hom deur ’n besoek na Kitchenbrand in Johannesburg te reël. Teen hierdie tyd het Ruan net duiwe gesien, en hy was vasbeslote om ’n volwaardige boerdery aan die gang te sit. Maar dit was makliker gesê as gedaan. “Dit is baie harde werk. En boonop is dit eintlik ’n wetenskap ook. “Daar moet noukeurig gekyk word na die duiwe se dieet en ek moet ook medikasie kan toepas, soos antibiotika. Ek moet weet watter duiwe bymekaar pas om te paar om net die beste kleintjies te lewer. “Die duiwe moet elke dag geoefen word en ek maak hul hokke twee keer ’n dag skoon. Ek glo dat as hulle gelukkig is met hul tuiste, sal hulle floreer.” Nog ’n plaaslike wedvlugduiweboer, Attie Marais, is self trots op die jong duif-boer. “Hierdie sport hou jou 365 dae van die jaar besig, en Ruan doen dit byna man-alleen. “Ander kinders wat hierby betrokke is, ry dikwels op die rug van ’n familielid wat ook betrokke is. Maar Ruan doen alles self. “Hy gaan nog ’n naam word om mee gereken te word in die duiwewêreld.”
More
News
|