Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Poloniedorp se mense gesels oor toeka se dae

Poloniedorp se mense gesels oor toeka se dae
 
2010-07-29

Marguerite Lombard

IN die 1960s het die jongklomp van Poloniedorp in Wellington net soos ander Suid-Afrikaners die musiek van die Shadows nagemaak, geleer om te twist, en die meisies hulle hare in die Bubble-cut laat sny.

Die enigste verskil is dat hulle hele woongebied vandag nie meer bestaan nie.

Vandag is hulle self al oumas en oupas, maar hulle onthou hulle kinderjare soos gister: Hoe hulle op die hoop druiwedoppe langs hulle huise gespeel het.

Van pak kry omdat hulle appelkose in Frikkie Roux se boorde gesteel het, van elke dag se bottel afgeroomde melk koop by Tienie Malan, van speel langs die spoorweglyn, en die koms elke jaar van die merry-go-round en Boswell Wilkie se sirkus.

Poloniedorp of Die Akkers soos die gebied tussen Versailles- en Industriëlestraat destyds genoem is, is vandag binne in Wellington se industriële gebied. In die 1960s het sowat sestien gesinne daar gewoon.

Die naam word afgelei van die Spek- & Hamfabriek wat in die gebied was. So vertel die gewese inwoners tydens ‘n werksessie van die Wellington Museum se “Om die tafel-stories” projek.

Die projek is ’n poging om die geskiedenis van mense wat as gevolg van apartheidswetgewing hulle huise moes ontruim het, op te skryf.

Poloniedorp is later as industriële gebied verklaar en die inwoners is in 1968 na huise in onder andere Desmorestraat en “Sakkieskamp” verskuif.

Hulle ou huise in Poloniedorp is egter nooit gesloop nie, en baie bestaan tot vandag toe nog.

Martha Dampies (81) onthou nog goed die arm- en swaarkry van haar kinderjare in Poloniedorp. Van smiddae by die poloniefabriek se draad staan en wag dat die werkers die fabriek se uitgebraaide kaiings uitdra.

“Dan hol ons kinders om daar by die kruiwa uit te kom. Partykeer is daar ’n stukkie vleis vir ons ook uitgesmokkel.”

Haar vriendin Anne Abrahams (90) vertel hoe moeilik dit was vir haar as jong vrou, om genoeg kos op die tafel te sit vir haar gesin.

“Ek was 18 toe ek man gevat het, en toe het my swaar tyd begin. Ek moes soek vir ’n vleisie vir die tafel. Ek het by die slagpale se hekke gaan staan vir ’n bietjie soetvleisies, afvalvleisies en dermpies.

“Die dermpies vat jy en maak hulle mooi skoon, maak hulle netjies en hang hulle op en as dit drooggewaai het in die son, sit ek hom op die kole. Dan het ons lekker geëet, saam met brood en jam.”

Marie de Vries is in 1946 in Poloniedorp gebore. In elke huisgesin was daar iemand wat iets goed gedoen het, vertel sy.

“Ant Girlie was ’n dressmaker, ook Regina Weideman, en Antie Spasie Martiens, sy het ook rokke gemaak. Die koekbaksters was Antie Kosie Lewis en Antie Rachel.

“My pa het hare geknip. Sikspens vir die kinders en ‘n sjieling vir die grootmense.

“Elke jaar in Junie het oom Paul Olifant uit Namakwaland kom kuier, en daai man se hare het Pa ook geknip. Dan staan ek so by die grootmense net om te hoor hoe Oom Paul praat. Want die Namakwaland se mense se sê is anders as ons mense s’n.

“Langs ons was Antie Nellie. Sy het ook hare geknip: die bubble-cut soos ons dit daai tyd gedra het.”

Vernon Williams se pa het musiek gemaak en was een van die stigterslede van die Good Hopes. Al die musiekgroep se instrumente is by hulle huis gestoor, van klavier, banjo, kitaar, saxofoon tot viool.

Elke Kersfees het die groep deur die dorp se strate geloop en Kersliedere gesing.

“Dit was ’n belewenis. Die span het so teen sesuur in die oggend by ons huis bymekaargekom, so tussen vyftig en sestig mans wat almal musiek maak. Net soveel mense het ook agternageloop.

Maurita van Wyk onthou toe hulle getrek het. Dit was op 26 Februarie 1968. Sy onthou omdat dit haar verjaarsdag was. Sy was toe tien jaar oud.

“Ons het skoolgegaan by Paul Gedenk, en daardie middag kom ons huis toe. Toe sê ma ons kan nie langer bly nie, ons moet trek. Ons kinders moes solank die tweeling se pram vat en die klere en goed trek na ons nuwe plek in Sakkieskamp.”

buurtgesprekke volg.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za